FRAMBOOSGEMMERBIER
(bl. 100) My ouma het al die jare gemmerbier gemaak vir ons Kerstafel. Dis maklik en niks kan ’n dors so deeglik les soos yskoue gemmerbier nie. Dié een het boonop ’n vrugtekinkel. genoeg vir 3 liter
10 g-sakkie kitsgis
400 ml louwarm water
400 g (500 ml) suiker
300 g bevrore frambose
2 500 ml water
’n hand vol rosyne
10 ml jamaikagemmer (kyk by apteek)
1 kg gebreekte ys vir voorsit 175 g vars frambose
Plaas gis, louwarm water en suiker in ’n mengbak en roer tot suiker opgelos het. Maak bak toe met kleefplastiek en laat staan op ’n warm plek tot gismengsel dik is en ’n skuimlaag bo-op vorm. Pols bevrore frambose en helfte van water in ’n groot mengbak met ’n staafmenger (stick blender) tot fyn. Voeg res van water, rosyne, jamaikagemmer en gismengsel by en meng deur. Maak bak toe met kleefplastiek en laat staan oornag om verder te gis op ’n koel plek – nie in die yskas nie. Gooi mengsel deur ’n sif, gooi rosyne weg en plaas bier in yskas tot yskoud. Gooi gebreekte ys in ’n groot ponsbak saam met vars frambose. Gooi yskoue gemmerbier oor en sit voor in glase van jou keuse.