’N TOEGANKLIKER WÊRELD
Mense lees my stories op sosiale media met die aanmerking dat hulle weet hoe dit gaan sonder om te vra. Sosiale media, die plek waar ons wonderwerkkinders het, met die perfekte huwelik en gesin. Ons ken almal daardie een mens met wie dit net goed gaan. Geseënd en gelukkig.
Soms moet mens dinge reguit sê, soms moet ons minder “polish”. Niemand kan hulle met die “perfekte mamma, gesin of kinders” vereenselwig nie. Dis onrealisties en intimiderend.
Dalk kan my foute mense baie meer leer. Ons het ook goeie én slegte dae, deurbrake, flops en suksesse waarvoor ons dankbaar is. Wees eerlik: Sal dit nie lekker wees as ons mekaar kan bevry van hierdie onrealistiese wêreld en lewe wat ons nastreef nie?
Die jare maak mens sag. Sonder om ruggraatloos of pateties te raak, lui te wees of boedel oor te gee. Allesbehalwe. Iewers in mens se ouer en wyser word, moet jy stop en leer om nie meer alles vir almal te doen nie. Miskien wil ons almal maar net eendag sê: “Been there, done that . . .”
Kinders word gedruk om te presteer. Ons is gesteld op rapporte. Toetspunte. Asof dit iets sê van jou karakter. Dis hierdie dinge wat my laat besef: Jy werk jou lewe lank aan daardie CV en getuigskrif, kwalifikasies en prestasies. Dit het beslis waarde, maar dan word jou lewe in ’n heeltemal ander rigting gestuur.
Uiteindelik, in die wyser seisoen van my lewe, besef ek ook dat ek nie vir alles hoef ja te sê nie. Die skrywer James Clear het gesê: “Stop making choices, start making commitments.”
Ek weet ook in hierdie nuwe, wyser fase dat drome my kinders laat uitsien na die toekoms, al word daar so negatief gepraat in grootmenskringe.
Ons moet die wêreld vir ons kinders toegankliker maak.
Lynette Strydom, Gqeberha