TYD WAT VERBY IS
Alleenheid en eensaamheid is volgens die De Stadlers se
Tesourus van Afrikaans sinonieme wat hier en daar verskil in hul toepassing. Daar is iets vreesaanjaends aan alleenheid en iets nostalgies aan eensaamheid.
As jy in selfisolasie in jou huis met ’n Camparimojito en ’n boeiende boek voor ’n knetterende vuurtjie sit, is jy nie alleen of eensaam nie. Of as jy besluit om ’n hele Netflixreeks dwarsdeur die nag te kyk, met die slapende lywe van jou troeteldiere wat jou voete warm hou, is jy ook nie alleen nie en jy is allermins eensaam. Jy verkneukel jou aan die gevare waarin die held of heldin verkeer en jy verlekker jou aan hul stomende bed-baljare.
Jy is ook nie alleen of eensaam as jy die jasmyn in die tuin ruik en die sneeu sien smelt op die verste berge nie. Jy maak sop – minder as ander tye – en jy eksperimenteer met jou eie jenewerbessies en lemmetjie-drankies.
Dan, op ’n Sondag nooi jou naaste kind jou om halfpad te ry en by ’n restaurant te gaan eet. Die mure is dik en oud, die eikebome dikker en ouer, vuur skitter agter ou koperskerms. Jy lag, jy gesels, jy kom agter hoe vinnig jou kleinkinders groei en vaardige vingertjies op selfone laat jou verwonderd. Mettertyd is die kos klaar geëet en die vonkelwyn vonkel nie meer pienk en borrelend nie. Saam stap julle uit
– vir ’n wyle staan jy by hulle terwyl almal in die spoelklipmotor inklim. “Baai, Ouma!”
“Ouma moet kom kuier!” “Kom Ouma Kersfees saam see toe?”
Hulle trek weg en jy stap na jou motor toe. Jy betaal die fooitjie. Jy ry met die son in jou oë huis toe, maar dis nie die son wat veroorsaak dat jy nie kan sien nie. Dis die trane wat oor die rand van jou oë spoel en jou blind maak. Want nou weet jy waarom eensaamheid en alleenheid sinonieme is. Jy moet aftrek van die pad, want jy kan nie sien waar jy ry nie. Jy huil. Jy huil jou hart uit. Want jou tyd as jong vrou en mamma en laerskool-helikopter-ma en terugstaan- en regstaanma is verby.
As jy later by die koue skemerhuis instap en die honde groet uitbundig, moet jy hard werk om weer jou balans te kry.
Jy klim versigtig op die mespunt en jy haal diep asem. Jy wil nie eintlik weet van eensaamheid en alleenheid nie en jy sit hulle weg. Heeltemal verban. Maar hulle loer deur skrefies vir jou.
Riëtte Hugo, Durbanville
NES SY PA
Ek en my wederhelf staan onlangs in die ry om te betaal by ’n bekende kruidenierswinkel. Die kassiere is baie nuuskierig toe ek die agt kanne van twee liter elk amasi (suurmelk) uit my trollie pak om te betaal, en wil weet wie drink dan hierdie vetmaakgoed. Ek wys vir haar ’n foto van my oorgewig, mak swart vark, Buddy . . . Haar oë rek so groot soos pierings van skok en toe sy uiteindelik haar stem terugkry, loer sy oor my skouer na my volronde manlief van 132 kg en sê: “Haai, Mevrou, die vark lyk dan net soos sy pa!” Nodeloos om te sê, my wederhelf was nie baie beïndruk nie, veral nie toe ek en die kassiere albei histeries begin giggel terwyl almal na ons kyk. Marieta Groenewald, Klein-Brakrivier
Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000, of stuur e-pos na: sarie@sarie.com. Nie meer as 300 woorde nie, maar ons behou die reg voor om briewe te verkort. Menings uitgespreek in lesersbriewe is nie noodwendig dié van SARIE nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies of vermiste mense nie. Briewe (ook e-posbriewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Dit moet ook oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie. En jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.