PAROSMIE, VANWAAR?
Ons weet nog nie hoekom dit by mense met “lang Covid” voorkom nie. ’N TEORIE: Dis weens skade aan senuweevesels wat seine van die neusreseptore na “eindpunte” (bekend as glomeruli) van die reukbol in die brein oordra. As dit weer groei – ongeag of die skade aangerig is deur ’n motorongeluk of ’n virale of bakteriële infeksie – heg die vesels vermoedelik aan die verkeerde “eindpunt”. Die brein herken dus nie die reuk nie en is dalk geprogrammeer om dit dan as ’n gevaar te beskou. Die teorie is dat die brein meestal die probleem mettertyd sal regstel. Daar is nie juis data beskikbaar nie omdat so min mense voor Covid-19 parosmie gehad het.
NOG ’N TEORIE is dat jy net sommige van die verbindings in ’n stof waarneem en dat dit in isolasie erger kan ruik. Die intensiteit kan selfs verhoog word. Só bevat koffie swaelverbindings wat lekker ruik in kombinasie met al die ander molekules wat koffie ’n heerlike geur gee, maar alleen nie so lekker ruik nie.
Ons weet ook nie presies hoekom ons brein dié verdraaide reuke meer dikwels as onaangenaam vertolk nie. Euosmie (dit ruik lekker) is skaarser as parosmie (dit ruik aaklig). Dalk omdat dit makliker is om ’n onaangename reuk, soos vrot, giftige kos, te herken as ’n aangenamer geur. (Bron: BBC.com)