’N VOLWAARDIGE REIS
Ek fancy myself ’n dienlike skrywer en word vertel ek mag – immers het ’n brief of twee van my al in SARIE verskyn – maar jinne, dit is wanneer ek artikels lees soos dié van Sonnette Lombaard oor Piet Croucamp (“Piet se kollig steel jy nie”, Januarie/Februarieuitgawe) dat ek weer eens net besef daar is sommige onder ons wat eenvoudig op ’n hoër vlak funksioneer.
So sit ek met een oog op Ontbytsake luisterend na Novak se ballingskap en flap deur SARIE, en dis dalk omdat ek in die verlede vir Piet neffens en half skuins oor die draad al leer ken het dat my tweede oog begin saamlees.
Die volgende kwartier is een waar al die stadsgeluide om jou verdof en jy die protagonis voor jou sien terwyl jy sy wedervarings helder visualiseer. In minder as drie bladsye neem sy my op ’n volwaardige reis: ek voel sy pyn en plesier, ek beleef sy konflikte en oorwinnings, en ek resoneer met sy innerlike. Hoe raak skryfwerk beter as dit . . .
Soos Piet het ook ek min sin aan vertoon, maar dalk eendag, indien iemand iewers dan iets oor my moet skryf, mag ek pleit dat dit Sonnette sal wees. Ek reken dat selfs my verhaal na iets merkwaardigs sal klink. Andre du Plessis, Saxonwold