My passie is om SA stories te vertel
Skrywer en regisseur Amy Jephta
Sy kan haar byna nie ’n groter eer indink as dat haar film, Barakat (2020), Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 2022-Oscars was nie, sê Amy Jephta. Sy is skrywer, regisseur en medevervaardiger van dié fliek wat handel oor ’n matriarg wat haar vervreemde familie probeer bymekaar bring vir Eid-alFitr om die nuus van haar nuwe romanse te deel.
“Dit is so ’n persoonlike projek en baie na aan my hart. Ek het baie besonderhede van my kinderjare en eie familie ingesit. My ouma het op ’n laat ouderdom weer verlief geraak en baie van die dekor is op haar huis geskoei – ons het selfs van haar eie ornamente daarin gebruik.”
Die film het uiteindelik nie die kortlys van internasionale inskrywings, dié wat dan ’n amptelike Oscarbenoeming kry, gemaak nie. “Maar dit bly steeds ’n eer dat ons ingeskryf is,” sê Amy. “Ons het geweet die kanse vir ’n klein film soos Barakat, met ’n nuwe skrywer en regisseur, is skraal. Maar al het ons nie die kortlys gehaal nie, was die aandag wat dit gekry het reeds soveel werd.”
Barakat is al by 20 plaaslike en internasionale filmfeeste vertoon, onder meer in Australië, New York, Londen en Los Angeles, en het tot dusver sewe toekennings losgeslaan. “Ons het die toekenning vir beste rolprent by die Reel Sisters of The Diaspora Film Festival in 2020 in die VSA gekry – vir my ’n groot prestasie. Maar dis op sigself vir my ’n hoogtepunt om ’n eg Kaapse storie en karakters oorsee te kan deel en te sien hoe nuuskierig mense oor ons kultuur is.”
Amy was in Desember in Los Angeles om skouers te skuur en die fliek te bemark. “Dis nou die derde keer wat ek Hollywood toe is sedert ek ’n agent daar gekry het – jy moet mense in die oë kan kyk om vir jouself ’n naam oorsee te maak. Dis nog altyd my plan om in Suid-Afrika te woon, maar om ook internasionaal te werk.”
Sy wou eers ’n teaterskrywer word, maar het intussen haar slag in die rolprentwêreld gewys as onder meer skrywer van die filmverwerking van Ellen: Die Ellen Pakkies-storie (2018). “Dit het eintlik heel toevallig gebeur. As kind was ek ’n introvert wat baie gelees het. Die biblioteek was soos my kerk. In graad agt het ek al kort stories begin skryf. Toe ontdek ek teater en besluit om in dié rigting aan die Universiteit van Kaapstad te studeer. șDie regisseurț Maynard Kraak het my teaterwerk raakgesien en gevra om die draaiboek van die romantiese komedie Sonskyn Beperk ș2016ț te skryf. En daar het die medium my aangegryp – die wêrelde wat jy vir film en TV kan skep, is net so klein soos jou verbeelding.”
En nou gaan baie deure vir haar oop. “Die volgende film wat ek skryf (ek mag nog nie meer daaroor praat nie), het na my kant toe gekom as gevolg van Barakat se sukses. Dan het ek ook help skryf aan Detective Cooper, ’n reeks oor ’n bruin speurder in apartheid-Suid-Afrika wat voorgee hy is wit. Dit is aangepas uit Malla Nunn se boek A Beautiful Place to
Die en ’n samewerkingsooreenkoms tussen Suid-Afrikaanse en Australiese produksiemaatskappye. Ook op die horison is ’n oorspronklike rillerreeks wat in die Kaap afspeel en deur ’n produksiemaatskappy in die VK vervaardig word.”
Dit pas alles so reg in haar kraal, want Amy se passie is om SuidAfrikaanse stories te vertel. “Ek word byvoorbeeld baie genader om te help skryf aan Suid-Afrikaanse karakters in internasionale stories. Ek vind mense word al hoe ontvankliker en stel belang in plaaslike stories en karakters – dis ’n goeie tyd vir ons mense!”
* Twee films het Suid-Afrika se vlag laat wapper, maar is later nie benoem nie: Die biografiese oorlogsdrama Moffie het die kortlys van internasionale inskrywings gehaal, asook die apartheidsdrama When The Sun Sets in die kortprent-kategorie.