EK WAS VERLIEF OP TANTE RENTIA SE FYNBOSTUIN
Annelie Janse van Rensburg, keramiekkunstenaar
Klei wat tussen haar tone uitpeul, daar op die damwal van hul plaas Kom Weer, was haar grootste “joy”, vertel Annelie.
Tog het sy kleintyd in die Oos-Kaap nie besef sy gaan die wêreld eendag met klei bekoor nie.
Deesdae is haar keramiekkuns, met gesofistikeerde fynbosontwerpe, plaaslik en oorsee gewild – met bestellings uit plekke soos Texas en Florida en oral in Brittanje.
Dit vervul haar met vreugde. Wanneer jy verwys na haar suksesvolle loopbaan, lag sy. “Dis nog so kort,” sê sy, net so onopgesmuk soos die fynbos wat haar betower. Haar grade in maatskaplike werk en bedryfsielkunde behoort tot ’n vorige lewe.
Annelie se fynbos-reis het in 2015 begin, toe hul gesin van die Vaaldriehoek na Kaapstad, hul droombestemming, getrek het. Sy was gereed vir dié nuwe fase. Haar man, Werner, is ’n chemikus, en hulle het twee kinders op skool, Ruben (15) en Mia (12).
Haar nuwe loopbaan het ontvou toe ’n pel haar nooi na ’n pottebakkersklas. Sy het dadelik geweet pottebakkery roer haar wese.
Só stap sy en haar vriendin, Suna Karsten, ’n oogkundige, nou gereeld teen die hange van Tafelberg en los die wêreld se probleme op. Dís waar sy haar idees vir haar kuns verfyn. “My worshonde, Dawie en Frikkie, speel op ons uitstappies te lekker met Krummel, Suna se schnauzer.” Met die reuk van proteas en speldekussings, veral ná die reën, bly die kreatiewe sappe woel in haar kop.
Haar heel eerste kennismaking met fynbos was egter doerietyd, toe sy as lid van ’n plaasskool-koor by ’n kunswedstryd op Grahamstad gaan sing het. “Ek het my verkyk aan die bosse speldekussings langs die pad.” As tiener was sy gek na die fynbostuin van tante Rentia Heynemann op Stilbaai. “Ek onthou nog die plomp oranjerooi speldekussings met hul grys blare.”
Party fynbosplante is afgeëts in haar kop. Ander skets sy konsensieus tydens of ná bergwandelings. “Ek kry hoendervel as ek voëltjies sien. Soms gaan staan ek doodstil. Asemrowende oomblikke in die natuur.” Suikervoëls met lang sterte, suikerbekkies en witogies, dikwels in kombinasie met die beskeie klaaslouwbossie, gryp haar aan. “Daai silwer blaartjies lyk soos ’n skaap se oortjies en die geel blommetjies is net beautiful.”
Haar boksie verf wag paraat op haar kombuistafel. Mia sê haar ma se werksure is “heeltyd”, lag sy.
Gesofistikeerde, fyn ontwerpe versier haar vase, borde en platborde. “Alle eer ook aan prof. Kristo Pienaar en sy boek Plant inheems, vir sy kennis.”
Pottebakkerswerk is uitdagend. “Baie kan verkeerd gaan met klei tussen die prosesse. Jy is nooit seker wat gaan gebeur nie.” Katryn spin op haar skoot of lê in een van haar stukke by haar ateljee in Mowbray terwyl sy bedags werk.
Annelie droom van ’n groepuitstalling saam met skilders. Sy hoop haar kuns besiel mense om fynbos te respekteer. “Baie fynbosplante is beskermde spesies en uniek aan Suid-Afrika. Ons moet trots wees daarop.”