FYNBOS IS DIE GOUE DRAAD IN ONS KULINÊRE ERFENIS
Giselle Courtney, fynbosboer van Clairvaux, Wellington
Aan die heuwels van die Hawequa-bergreeks wat oor die groen Wellington-vallei uitkyk, het ’n wonderlike nuwe wêreld ontkiem vir Giselle.
Hier op haar en haar man, Mark, se plaas, in die erfenisgebied langs Wellington se hoefystervormige Perdeskoenpad, het sy besef fynbos is die goue draad van Suid-Afrikaners se kulinêre erfenis. En sy wou dít vier.
Dit doen sy met haar Kaapstad-fynboservaring, wat sedert 2017 wyd geloof word. “Die eerste een is in samewerking met Kaapstad se Erfenistrust in die Kompanjiestuin gehou, in die Erfenishuis,” vertel sy.
Deesdae bied sy dit vir groepe, nie groter as sewentien elk nie, aan by hul plaashuis. Aromatiese tee-aftreksels, sout, stroop, eetbare plante, vinaigrette – als met fynbosbestanddele – word geproe. Kulinêre vermengings van fynbos in tapas vorm alles deel van die eet-ervaring. Maak jou ook reg vir ’n begeleide toer deur die fynboslande.
Giselle se South African Fynbos-reeks kruie en soute is
die eerste wat fynbosgeure aan die wêreld bekend gestel het as erfenisgeurmiddels. Sy praat daarvan as ons “inklusiewe SuidAfrikaanse eetkultuur”. ’n Mens kan dié reeks soute, kruie en tees by sowat vyftig winkels asook aanlyn koop.
“Fynbosspesies word bedreig. Ons het ’n lisensie van Kaapse Natuurbewaring en mag dus fynbos plant, oes en produkte met dié bestanddele verkoop.”
Daar is tientalle fynbosspesies op hul plaas. Nege van dié spesies is eetbaar, waaronder renoster- en kapokbos.
Haar pad na fynbos kom met ’n effense draai. As jong regstudent aan die Universiteit van Kaapstad het Giselle vir sakgeld toergids gespeel. Die meisie van Kampsbaai was mal oor fynbos en het dit graag aan toeriste gewys. Ná haar studies het sy en haar man na Johannesburg verhuis.
“Maar ek het fynbos altyd as metafoor gebruik in ons opleidingsmaatskappy, waar ons gespesialiseer het in talentontwikkeling. Só kon ek mense leer van diversiteit.”
Omtrent tien jaar gelede het hulle die Goudstad vir die Boland verruil en in 2010 die plaas gekoop. Sy het die korporatiewe wêreld gegroet, en haar kinders, Ceilidh
(nou 23) en Dominic (19), grootgemaak.
Dit het net reg gevoel om haar te verdiep in fynbos. Die plaas het daarna geruik, sy kon dit orals sien en sy wis: Dis propvol potensiaal.
Kapokbos beskryf sy as “sensasioneel”.
Dit is baie soos roosmaryn, maar veel meer intens. “Dit werk uitstekend in Mediterreense geregte.” Boegoesout is weer ’n braaitreffer oor vleis, hoender, vis en groentesosaties. Rooiboskruie bring tamatiebredie se geur uit en is besonder lekker oor roereier. Die moontlikhede van die fynbos-kookkuns is omtrent legio.
Giselle het ook die fynbos-geurwiel ontwerp. “Ek het elf eetbare fynboskruie en -geurmiddels geïdentifiseer. Die geurwiel is ’n soort gids vir watter geure die beste by watter geregte sal werk, sodat die persoonlikheid van eg SuidAfrikaanse cuisine op sy beste sal skitter.
“As jy fynbos eers in jou kombuis gebruik het, is daar geen omdraai nie.”