DÍT GEBEUR IN JOU BREIN
Wanneer jy droom, speel sensasies, emosies, idees en beelde onwillekeurig in jou kop af. Die “storie” is chronologies en realisties, of abstrak.
“Ons droom meestal in die REM-fase șvinnige oogbeweging of Rapid Eye Movementț van slaap wanneer die brein meer aktief is,” sê Peet Vermaak, ’n kliniese neurofisioloog en stigter van die slaapklinieke in Mbombela (Nelspruit) en Pretoria. Ons bestee sowat 20% van ons slaaptyd aan droom. Prof. Solms, wat vasgestel het hoe die brein tydens die droomproses werk, sê drie breinaktiwiteite is betrokke: Die frontale lobbe, wat logiese en rasionele denke bepaal, skakel af. Die limbiese stelsel, wat emosies, motivering en outobiografiese geheue beheer, word geaktiveer en inhibisies verdwyn. Die deel aan die agterkant van jou brein, wat verantwoordelik is vir jou sig- en hoorvermoë, word tot op die vlak van wakkerwees geaktiveer.
Omdat die frontale lobbe afskakel en die beweging van jou ruggraat blokkeer, verander abstrakte denke in konkrete beelde en word werklike aksies met hallusinasies vervang.