’N GESELLIGE EILAND-ERVARING
Dis met groot opwinding dat ek die opgradering van my ou kombuis aanpak, mure word uitgebreek, nuwe vloerbedekkings ingesit. Alles verloop glad, tot dit by die keuse van ’n eetspasie kom. “’n Eiland met ’n grys marmerblad,” stel my dogter voor. Koue rillings hardloop langs my ruggraat af. Is ons dan nie nou al ’n paar jaar vasgevang op ’n koue, grys Covid-eiland nie? Ek weier botweg. Ek soek ’n lang, gesellige tafel waar familie en vriende kan saamkuier. Die kinders is sprakeloos. “Ma gaan die hele moderne kombuis tot in die afgrond afgradeer,” is die kommentaar. My vriendin byt op haar lip en my man slaan sy oë dakwaarts.
Ek hou voet by stuk en ontdek ’n ou, vergete tafel in die skuur – ene wat lank kan uittrek om vir agt mense plek te maak. Die tafel word skoongemaak en ingedra. Ek koop vrolike materiaal en maak tafeldoeke en plekmatjies. Almal stem teësinnig saam dat dit pragtig en gesellig is, ’n kuierkombuis.
En vir diegene wat nog smag na ’n eiland-ervaring, kry ’n tropies-bedrukte sarong uit Mauritius, versier met groot palmtakke en pienk hibiskusblomme, as tafeldoek – ’n idilliese samesyn-eiland, sonder eensaamheid en afsondering.
Coreen Kotzé, Heidelberg, Wes-Kaap