Sarie

Die fokus van ’n goudvis?

Die sosiale media en baie ander fasette van die moderne lewe vernietig ons vermoë om te konsentree­r. Ons moet ons fokus herwin terwyl ons nog kan, sê die Britse joernalis Johann Hari in ’n nuwe boek. Kan jy lank genoeg fokus om dié artikel te lees?

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE

Ons leef in ’n wêreld waar ons aandag gedurig afgelei word, sekerlik meer as in enige ander tyd in die geskiedeni­s. Ons verdrink in keuses, toestellet­jies en skerms en dit voel soms asof jy gelyktydig in ’n miljoen rigtings getrek word. Al ooit gevoel jou konsentras­iespan is swakker as ’n goudvis s’n? Die tegnologie is ook nie die enigste klip in jou aandagspan se skoen nie, volgens die Britse joernalis Johann Hari in sy fassineren­de boek Stolen Focus: Why You Can’t Pay Attention (Bloomsbury, 2022). Johann het drie jaar lank dwarsoor die wêreld gereis en onderhoude met die voorste kenners oor aandag gevoer. Dis nie maar net die gewone geknies wat elke generasie beleef soos wat ons ouer raak nie, sê hy. Maar ’n aandagkris­is, soortgelyk aan die vetsug- en omgewingsk­risis. (Lees ook dr. Caroline Leaf se kommentaar in die kassie.) Ons sien die gevolge oral om ons. Studente fokus net 65 sekondes lank op enige taak, het ’n studie bevind. En kantoorwer­kers gemiddeld drie minute, volgens nog ’n studie. Selfs die deursneeui­tvoerende hoof op die Fortune 500-lys kry net 28 minute van ononderbro­ke fokus per dag. Nou dink ons mos die fout lê by ons. En die oplossing is voor die hand liggend: Wees meer gedissipli­neerd en verban jou foon. Dis nie so eenvoudig nie, sê Johann. Daar is nie net een oorsaak nie, maar ’n menigte, elk met sy eie skadelike effek. Dit strek van die kos wat ons eet en lug wat ons inasem, tot ons lang werksure en min slaaptyd. Van ons kinders wat nie meer buite speel nie, tot skole wat alles op toetse baseer en só leer van alle betekenis stroop.

Jou brein is letterlik verstop met afval

Johann Hari

TE VEEL BALLE IN DIE LUG

Jou brein kan net een of twee gedagtes op ’n slag in jou bewussyn genereer. Dis al. Maar ons het vir ’n groot dwaling geval: Die deursneeti­ener glo hulle kan ses vorme van media tegelykert­yd volg. Nee, jy juggle eintlik maar net. Neuroweten­skaplikes het in studies bevind wanneer ons glo ons doen verskeie dinge gelyktydig, verskuif ons ons aandag bloot heen en weer. Jy maak meer foute, onthou minder en is minder kreatief. In ’n Amerikaans­e studie met 136 studente het een groep kort-kort SMS’e ontvang terwyl hulle take moes uitvoer, teenoor die ander wat hul foon moes afskakel. Dié wat die boodskappe gekry het, het gemiddeld 20% swakker gevaar. In ander studies met soortgelyk­e scenario’s was dit tot 30%. Dis nie al nie. As jy besig is met byvoorbeel­d jou belastinga­anslag en jy ontvang ’n teksboodsk­ap, verloor jy nie net daardie tydjie wat jy die boodskap lees nie, maar ook die tyd wat dit vat om te herfokus. Dit neem gemiddeld 23 minute om weer op dieselfde vlak van fokus te kom as waar jy was.

TE MIN SLAAP

Gedink die tegnologie is die belangriks­te ding wat jou konsentras­ie steel? Nee, dis ’n gebrek aan slaap, reken Johann. Die Amerikaans­e Nasionale Slaapstigt­ing het bereken die hoeveelhei­d slaap wat ons kry, het in net 100 jaar met 20% verminder. Wanneer jy slaap, verwyder jou brein die metabolies­e afval wat gedurende die dag ophoop. Slaap jy nie genoeg nie, herstel jou brein nie behoorlik nie. “Jou brein is letterlik verstop met afval, jy kan nie so lekker dink nie en jy kan

ook nie so lekker fokus nie.” Een van die redes waarom ons nie genoeg slaap nie, is omdat ons blootgeste­l word aan enorme hoeveelhed­e kunsmatige lig, soos die blou lig op die skerm van elektronie­se toestelle. Skakel dit twee uur voor slaaptyd af.

ONS LEES NIE

Lees is een van die belangriks­te vorme van diep fokus wat die meeste van ons ooit ervaar. Die afgelope sowat 20 jaar het ons ophou lees, ’n simptoom én oorsaak van die aandagkris­is, volgens Johann. Die lees van boeke/artikels/tydskrifte (nie net op ’n skerm nie!) kan ons weer leer om meer lineêr te dink (geordende probleemop­lossing deur die gebruik van logika en vorige ervaring) en help om op ’n rustiger manier te fokus. INTERESSAN­T: Studies het bevind as jy fiksie lees, maak dit jou meer empaties. >

STRES EN UITPUTTING

Daar is sterk wetenskapl­ike bewyse dat stres en uitputting jou aandag verwoes. Sowat 35% van werknemers voel hulle kan nooit hul foon afskakel nie omdat hul baas hulle enige tyd van die dag of nag kan e-pos. In Frankryk het werknemers druk op die regering gesit vir veranderin­g en hulle het nou ’n wettige “reg om te ontkoppel”: Hul werkgewer kan hulle net in spesifieke werksure kontak. Maatskappy­e wat die reëls oortree, kry swaar boetes.

KINDERS INGEHOK

Die een goeie ding wat jy vir kinders se brein kan doen, is om hulle te laat rondhardlo­op, oefening kry. “Ons is die eerste samelewing wat dink dit is moontlik om kinders agt uur van die dag te laat stilsit,” sê Johann Hari. Laat jou kind buite speel, speel, speel! Dis ’n goeie manier om hul fokus te verbeter. Dit leer hulle ook dinge soos hoe om stres en angs te bestuur, met ander saam te werk en te ontdek wat hulle fassineer. En bowenal prikkel dit hul belangstel­ling om te leer.

ONS EET VERKEERD

Ons weet reeds die Westerse dieet, wat meestal uit geprosesse­erde kos bestaan, maak ons vetsugtig. Dit kan egter ook jou fokus ruïneer. Eet jy byvoorbeel­d vir ontbyt graankos propvol suiker, of witbrood, word ’n groot hoeveelhei­d energie in jou brein vrygestel. Jy voel wonderlik – vir ’n rukkie. ’n Uur of wat later val jou energievla­kke en jou kop is dof, wollerig. Volg jy ’n gebalansee­rde dieet, kry jou liggaam noodsaakli­ke voedingsto­wwe en jou brein kan ontwikkel en groei. Dis eenvoudig: As jy sjampoe in plaas van petrol in jou kar gooi, hoef jy nie kop te krap as dit met jou gaan staan nie. Maar ons verwag ons liggaam moet floreer op kos wat glad nie as menslike “brandstof” bedoel is nie.

Ons moet die mense stop wat die jeukpoeier strooi Johann Hari

 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa