EENS-IN-’N-LEEFTYDERVARING OP HISTORIESE EKSPEDISIE
In 2012 het ’n swanger dr. Annie Bekker van die Universiteit Stellenbosch se departement meganiese en megatroniese ingenieurswese met haar tassie instrumente op ’n vliegtuig geklim om vir vyf dae die vibrasie op die splinternuwe SA Agulhas II in die Baltiese See te meet.
Vroeër vanjaar was Annie, nou professor en direkteur van die klank-en-vibrasie-navorsingsgroep, weer aan boord van dié ysbreker – hierdie keer as lid van die Endurance22ekspedisie. Dit was wêreldnuus toe die span op 5 Maart die skeepswrak van die ontdekkingsreisiger sir Ernest Shackleton ontdek het wat in 1915 in die Weddell-see naby Antarktika gesink het. ’n Vorige soektog in 2019 was onsuksesvol.
Om deel van so ’n geskiedkundige oomblik te wees is onbeskryflik, sê Annie. Die prentjie op die seebodem het haar asem weggeslaan toe sy dit sien. “Die perfek bewaarde skip en die bronsletters ENDURANCE . . . Daar was ’n enkele stewel en ’n paar bordskerwe, die bemanning moes alles vat om op die ys te kon oorleef.”
Sy en twee van haar M.Ing.-studente, James-John Matthee en Ben Steyn, was deel van ’n groep wetenskaplikes aan boord. “Ek is soos die dokter wat die pasiënt monitor – hoe sy rol en vibreer in die golwe en ys, watter kragte haar tref.
En hoe naby aan breekpunt sy werk. Die Agulhas II is my hart se punt, ek doen al soveel jare navorsing oor haar.”
Tyd was hul grootste vyand, met die winter wat aankom en die ys wat saampak. Die skip moes betyds terug. “Die SuidAfrikaanse kaptein en bemanning het hulle uitstekend van hul taak gekwyt. Om deel te wees van so ’n groot internasionale ekspedisie ș66 ledeț . . . sjoe, jy voel trots en patrioties, soos wanneer die Springbokke die Wêreldbeker wen!”
Hulle het ook by die eiland Suid-Georgië afgeklim, ’n klein seremonie by Shackleton se graf gehou en foto’s van sy skip daar gelaat. Hy is vanjaar presies 100 jaar dood.
Niks kon haar voorberei op hoe beeldskoon die eiland met sy robbe en pikkewyne is nie. “’n Paar van ons het selfs in ’n dam geswem. Halfelf die aand is ek op die laaste bootjie terug na die Agulhas II. Dit het begin reën en in die verte kon ek haar liggies sien . . . dit was soos huis. Dan wonder jy hoe Shackleton moes gevoel het toe sy huis onder die water verdwyn.”
So ’n eens-in-’n-leeftyd-ervaring kan jy kwalik troef. Dis ’n storie wat sy nog baie vir haar drie kinders (haar oudste is nou 9 en sy het ’n tweeling van 6) sal vertel – almal bly om hul ma ná ses weke te sien. “My man, Bernard ș’n stelsel-ingenieurț, is my mede-avonturier en gun my elke geleentheid.”