DIE BESTE VAN SA EN JAPAN
Tarentaal-tsukune, volstruiseier-chawanmushi, Outeniqua-springbok met kabocha-skorsie, Hokkaido-pampoen en sjiïtake-sampioene . . .
Die spyskaart is “Japan ontmoet Suid-Afrika” en fynproewers is gaande daaroor.
Die Kaapse restaurant FYN is maar nog net drie en ’n half jaar oud, maar dié unieke eetplek op die vyfde vloer van ’n eertydse 19de-eeuse syfabriek in Parlementstraat het reeds ’n merk in kulinêre kringe gemaak. Vanjaar het hy twee plusse op sy CV bygekry: nr. 37 op die 2022 World’s 50 Best Restaurants-lys en beste restaurant in Afrika.
Dié gerekende top-50-lys, saamgestel deur die Britse mediamaatskappy William Reed, vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar. Op die top-100-lys is nóg twee plaaslike name: La Colombe (56) in Kaapstad en Wolfgat (90) op Paternoster. (theworlds50best.com)