Suid-Kaap FORUM

Tannie Naomi bereik 100 jaar mylpaal

- Juan-Maré Conradie

RIVERSDAL - Naomi Stander met die mooi glimlag en vriendelik­heid wat uit haar straal, het Dinsdag 27 Februarie ‘n baie spesiale mylpaal bereik toe sy 100 jaar oud geword het.

Tannie Naomi was behoorlik oorweldig met almal wat haar verjaarsda­g saam met haar kom vier het, soveel so dat sy ‘n week later steeds oorweldig voel en dankbaar is dat haar verjaarsda­g almal na al die jare weer bymekaarge­bring het.

Die hoogtepunt was dat die sowat 40 mense wat sy self genooi het, die dag saam met haar kon deurbring om haar spesiale dag te vier. Haar vriende het die oggend by Jan Lange haar verjaarsda­g saam met haar gevier en die res van die dag haar familie.

Sy was so bly dat vyf van haar ses kleinkinde­rs na byna 37 jaar vir die eerste keer weer saam kon kuier. Hulle was al die jare oor Suid-Afrika en Namibië versprei en later ook oorsee. Die kleinkinde­rs woon almal in Suid-Afrika (Pretoria, Kempton Park en George), buiten vir die een kleinseun, Etienne, wat met sy Engelse vroutjie in Engeland woon.

Tannie Naomi se man, Adrian Hendrik Stander (familie naam), wat die liefde van haar lewe was, het haar in Oktober 1997 in die ouderdom van 89 ontval.

Uit hulle huwelik is ses kinders gebore, waarvan 'n seuntjie, Antonie, slegs ses dae geleef het en 'n dogter, Antoinette, op die ouderdom van 51 oorlede is weens kanker.

Gedurende 2004 en 2005 het sy vir byna 18 maande by Antoinette gaan bly om haar te versorg, en ook haar kleindogte­r, Nolene, wat in matriek was te ondersteun totdat Antoinette in die hospitaal opgeneem moes word enkele weke voor haar dood. Dit was geweldig traumaties vir die familie.

Een van baie hoogtepunt­e in haar lewe, wat sy steeds in detail kan onthou, was toe sy in 2004 op 80-jarige ouderdom vir Marie in Ierland gaan kuier het. Sy onthou nog hoe mooi groen en kleurvol dit daar is en waar hulle geëet en gebly het. “Ek het daar vir die eerste keer in my lewe in ‘n regte ‘pub’ gaan sit, maar net om te eet,” vertel sy met ‘n glimlaggie om die mooi rooi lippe.

Die strate, blomme en winkels onthou sy so goed soos gister en vertel graag hoe veilig dit is in Ierland. Daarna het hulle Londen besoek waar sy baie staaltjies vertel van onder andere die wasmuseum en al die plekke wat sy gesien het.

Die altyd positiewe Naomi, wat gebore en getoë is in Pretoria, het haar in 2006 in Riversdal, by Huis Jan Lange kom vestig waar haar dogter, Marie Stander, ook ‘n ogie oor haar hou. “Die kos in die tehuis is baie lekker, die personeel probeer regtig hard om ‘n verskeiden­heid disse te maak al is die koste deesdae so duur,” sê sy.

Alhoewel sy nie meer honderd present sig het nie, keer dit haar nie om vriende te maak nie. "Waar ook al ek loop en weet daar is iemand vra ek wie daar is omdat ek nie kan sien nie. Ek hoop maar mense verstaan hoekom ek elke dag vra," lag sy.

“My goue jare is te danke aan vrede en liefde vir myself en ander. Die geheim is om altyd te lag, maak nie saak hoe die lewe druk nie. Ek hou nie van moeilikhei­d maak nie en verstaan glad nie hoekom mense met mekaar baklei nie. ‘n Glimlag is sagter en baie lekkerder. Liefde en dankbaarhe­id teenoor God wat die sluise oor ons oopmaak is ‘n goeie beginsel, mense moet meer vertroue hê in ons Maker. Wat ons is, is net genade en wat ons het is net geleen. Dis nie moeilik om te verstaan nie,” verduideli­k sy met ‘n dringende passie.

Volgens Marie is haar moeder se wonderliks­te eienskappe haar diepgaande dankbaarhe­id, innerlike vreugde en meegaande vriendelik­heid wat spruit uit haar intieme verhouding met haar Skepper en Heer.

Alhoewel die ouderdom ook insluip met haar gehoor, is sy steeds dankbaar vir al haar seëninge. Een ding wat uitstaan vir al haar kinders is die feit dat sy ‘n uitsonderl­ike goeie geheue het.

“Haar geheue is beter as al ons kinders sin. Sy onthou nog detail wat ons nie meer kan onthou nie. Daarom stry ons nie maklik met haar nie, want ons weet sy onthou beter. Dit wat ons vergeet, onthou sy soos gister,” vertel Marie.

Tannie Naomi se boodskap aan almal is dat mens altyd jou seëninge moet tel: "Daar is soveel ellende en armoede in die wêreld dat ons net elke dag vir mekaar kan bid, veral vir die kindertjie­s, ou mensies en moenie die diere vergeet nie."

 ?? ?? Naomie Stander vier haar 100ste verjaarsda­g saam met geliefdes.
Naomie Stander vier haar 100ste verjaarsda­g saam met geliefdes.
 ?? ?? Niks keer hierdie 100-jarige om buite te sit en die vars reuk van plante te geniet nie.
Niks keer hierdie 100-jarige om buite te sit en die vars reuk van plante te geniet nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa