AGTER toe deure
Die ou kleinhuisie in die veld was dalk ’n beter idee as en suitebadkamers sonder ’n deur van enige aard, glo Wicus Pretorius.
JJy ken daai gevoel. Eers die ligte sweterigheid – “Is dit dalk griep?” – maar dan laat die kol op jou maag jou twyfel. Dis wanneer die reuk van jou kollega se eier-mayo-broodjie in die oopplankantoor onverwags jou voete laat swik, dat jy weet: Die wit scooter wag vir jou. (Of wat ook al jou naam is vir die onnoembare toilet.)
Dit kan enige plek gebeur. Op ’n vliegtuig of ’n bus, by die werk of by die kerk ... Maar die genadeloosste van almal, daardie een toets vir alles wat rein en flatervry moet wees – ’n romantiese vakansie in ’n hotelkamer met ’n oopplan-en suite. Hoe meer sterre, hoe minder bakstene. “Want verliefdes het mos geen geheime nie.” Nee. Net nee. “Plinka plonka phobia” noem iemand nou eendag dié vrees vir draaitjies loop in plekke met gebrekkige privaatheid. Google ken dit nie en ek voel nogal ingenome met myself. Wicus 1, Google 0.
Hoe ’n mens dit vertaal, sal ek nie weet nie. “Piep-en-ploep-fobie” stel iemand voor. (Daar was heelwat ander voorstelle ook, te erg om hier te noem.)
Iedergeval, dis hoekom ek my, wat en suite-badkamers betref, beywer vir ’n toedeurbeleid. Om die waarheid te sê, ek wonder of toentertyd se kleinhuisies nie eintlik ’n geniale plan was nie. Jy weet, ’n toilet buite waar jy na hartelus weg van als en almal op jou troontjie kan regeer.
Dit was in die negentigjare dat ek die eerste keer ’n oopplanbadkamer gesien het. In ons huis was die en suite – nuut aangebou ’n dekade tevore – nog versteek agter kasdeure. Jy weet, daardie liefdeskind van ’n instapkas en ’n badkamer: die “en suite in ’n kas”. Maar toe ’n universiteitspel se ouers ’n nuwe huis laat bou in ’n ghrênd ontwikkeling bo teen die bult, sit die pootjiesbad tjorts in die middel van die slaapkamer, met die dubbelbed dié kant en die stort, wasbakkas en toilet aan die ander kant. Eendjies op ’n ry teen die een muur.
Maar nie lank ná hulle ingetrek het nie, kuier ek weer eendag daar, en sien die huis is opnuut ’n bouterrein. Die hoofslaapkamer is op sy kop gekeer.
“Ons bou die badkamer toe,” verduidelik die ma. “Ons slaapkamer was altyd so muf van al die, uhm, ‘stoom’.” Haar neus is opgetrek, haar voorkop op ’n frons. Ek het dadelik geraai dis nie eintlik die stoom wat pla nie.
Want wie op aarde het ooit gedink dat ’n oopplan-badkamer, en erger nog, ’n oopplantoilet, ’n goeie idee is?
Ek sê weer: Nee, nee.
Eenkeer op ’n “eerste vakansie saam” werk ek deur al die clichés om die oopplan-dilemma in ons kamer te systap. “Gaan eet jy solank ontbyt, ek is nou-nou daar.”
Of: “Ek gaan eers ontvangs toe, wil net van iets seker maak.”
Of: “Sal ek sommer nou gaan hoor wanneer die toeroperateur beskikbaar is? Dan kan ons bespreek vir ons daguitstappie môre.”
Of: “Gaan jy draf vanoggend? Indien wel, wanneer?”
Dit was ’n pyniging, maar gelukkig was ons verblyf in dié hotel met sy baie sterre en min bakstene van korte duur.
Ek was dankbaar, en verlig. Ons al twee was dankbaar, en verlig.
Gelukkig, lyk dit my, is oopplan-badkamers ál minder van ’n trend. Daar word iedergeval genoeg gepiep-en-ploep op sosiale media. Sommige goed hoort sowaar agter digsluitende deure.