Uit hul notaboek
Hoekom nie soms ’n bietjie droom nie? Dis hoe die De Bruins se boma werklikheid geword het.
‘Dit was nog altyd een van ons geliefde tydverdrywe om oor ’n naweek in die namiddag deur ons tuin te stap en dan ’n glasie wyn op ’n tuinbankie of op die stoep te geniet,” vertel Elmerí. En dis presies hoe die De Bruins se boma tot stand gekom het. Op een so ’n tuinstappie het sy skielik ’n idee gekry: Hoekom bou hulle nie ’n boma in die agterste “gemorshoekie” van die tuin nie?
“Bernard wou eers nie byt nie, want wat sou hy met al sy losgoed maak wat altyd daar kon rondlê?” onthou sy. Maar die saadjie was geplant en ’n week later het die twee saam-saam in ’n notaboekie begin planne neerpen.
Eers het hulle ’n tydelike kuierplek met ’n vuurput ingerig; rondom was riviersand, ’n bankie en dik stompe vir sitplek, en gruisklippies op die vloer. Maar met twee honde wat baie rof speel, het dié reëling nie lank gehou nie.
“In 2014 het ons uiteindelik besluit om ’n meer permanente kuierplek aan te lê met muurtjies van sandsteen en ’n vloer van sement en spoelklippe,” sê Elmerí. Die wintermaande, wanneer Bernard se boomsloop-onderneming nie so besig is nie, was die perfekte tyd daarvoor – Elmerí, Bernard en ’n werker kon die projek voltyds aanpak en binne twintig dae afhandel, boomsloopwerk ingesluit! Om op te maak vir Bernard se verlore opgaar-hoekie, het die De Bruins ’n Wendyhuis staangemaak as pakplek. Elmerí se enigste voorwaarde was dat die huisie ’n spits sinkdak moes hê om by die styl van hul huis te pas en dat sy dit soos ’n tipiese Engelse pophuis kon verf. Die houtstofie is ook vir boomsloopwerk geruil en skep ekstra atmosfeer in die boma.
Koste