In my kombuis is daar ’n skuins venster.
Dis ingesit deur die vorige eienaars, seker twee dekades terug, want dit bied jou ’n uitsig op Tafelberg (mits jy op een spesifieke plek staan en jou nek behoorlik rek).
Dié venster se raam was van hout, maar hout wat vir twee dekades geen aandag kry nie, word poeier. En poeier is nie waterdig nie. Dit het ek uitgevind tydens my eerste winter in my 100 jaar oue huis, toe die water een stormnag in lang trane by die muur begin afloop – gelukkig is die nuwe kombuiskaste nie teen die muur vas nie, maar al die kragproppe vir die yskas, stoof, wasmasjien en tuimeldroër is in daardie muur. Wanhopig het ek met wurmpies wondergom die water probeer weglei van die proppe af; genadiglik was daar nie ’n kortsluiting nie. Dit was tyd om die venster te vervang.
Ek kry kwotasies by ’n rits installeerders. Een agent val hom byna dood, en amper laat vaar ek die projek toe ek besef dit gaan ’n fyn balanseertoertjie verg om daardie venster van meer as 4 m breed in te sit. Maar einde ten laaste daag die regte mense op met die regte verwysings. Hulle kos verreweg die meeste van almal wat kom opmeet het, en toe ek die stywe prysverskil bevraagteken, bel die fabriekbestuurder en oortuig my dat ’n firma met hul geskiedenis deliver.
Oor die venster inderdaad hoog en ongemaklik is, en die waarborg goed, aanvaar ek hul kwotasie. Ook oor die venster in die vorm van ’n parallelogram is, nie jou gewone vierkantraam nie. Spesialiswerk, reken ek.
Op die dag van die installasie daag ’n span mense op. Hulle gooi die houtvloere toe met sagte komberse en drapeer plastiekvelle oor die kombuiskaste. Daar’s ’n voorman, ’n toesighouer, ’n span handlangers en natuurlik die “tegnikus” wat met sy gereedskapsak gereed sit op die dak. Hulle is ’n geoefende masjien; ek voel gerus.
Tot hulle die blinknuwe venster indra. Die raam is inderdaad ’n parallelogram, maar die drie panele wat binne-in moet pas, is almal vierkante. Wiskunde is nie my sterk punt nie, maar drie vierkante langs mekaar maak ’n reghoek, dink ek stilweg.
Ek vra versigtig: “Is hierdie die regte venster vir daardie gat daarbo waar julle die ou venster uitgebreek het?” “Ja,” sê die voorman. “Beslis,” beaam die toesighouer. “Goed,” sê ek. Want ek sien hier kom reën. Daai gat moet vanmiddag nog toe … “Reg,” bevestig die voorman en die toesighouer in ’n koor. En toe die nie-so-groot verrassing van die man met die gereedskapsak op die dak: “Maar dié vensters is mos die verkeerde shape!”
Die voorman is sommer by die voordeur uit terwyl die toesighouer benoud die fabriek bel. Ek het die telefoon by haar gevat, en my wangedra.
Die uiteinde van die storie? Die venster ís toe (drie keer) verkeerd gemeet. Met kisplanke is die nuwe raam daardie aand toegespyker. Een of ander drommel in die fabriek het oornag drie nuwe panele gemaak, almal parallelogramme, wat stiptelik die volgende oggend ingesit is.
Die les van die storie? Hou toesig as jy bou – dit is iets wat almal in dié opknapgids beaam.
En betaal maar meer as dit by spesialistake kom. As ek dit nie gedoen het nie, was daar sweerlik nou nog planke in die raam bo my kombuis …
Lekker lees!