Met ’n kerk­hoed en ’n son­bril

Tuis - - AGTERBLAD -

Troos kom in baie ge­daan­tes – Ri­a­na S­chee­pers ver­tel van ’n vriend se groot­word.

Daar is een ding wat nié lek­ker is nie, en dit is om al­leen te eet. Ek praat nou nie van ont­byt wat jy so staan-staan af­sluk voor­dat jy hard­loop, of die vin­ni­ge hap­pie wat jy oor die mid­dag­uur gryp nie – ek praat van die een or­dent­li­ke ete wat ’n mens el­ke dag moet eet. ’n Ete met slaai en groen­te. Aan ta­fel. Mét ’n lap­ser­vet. En ’n glas wyn. Hier­die ete eet jy nie al­leen nie. As jy nie ’n lief­ling of selfs ’n par­kiet het wat jou ge­sel­skap kan hou nie, dan nooi jy ie­mand om hier­die ete met jou te deel.

Een van die mooi­ste ver­ha­le wat ek ken, is ’n sto­rie van saam eet. En die troos wat dit bring.

Ek het ’n vriend wat ’n voor­tref­li­ke sjef is. Hy’s ’n plaas­kind van die Ka­la­ha­ri, U­ping­ton se ge­wes­te. Hy maak kos wat men­se laat swy­mel, en dit al­les van die een­vou­dig­ste be­stand­de­le denk­baar. Hy vat ’n brood en kaas, hy pluk groen en rooi goe­ters uit sy tuin, en sit dan ’n fees­maal voor dat geen mens van die ta­fel wil op­staan nie. Ons kui­er tot dit nie meer fat­soen­lik is nie, maar ons wil nie weg­gaan nie.

“Hoe is dit dat jy so mak­lik en lek­ker kos maak?” vra ek een­keer vir ... kom ons noem hom maar Lou­is.

En dis toe dat ek die sto­rie hoor wat ek nou nog in my hart koes­ter.

Toe Lou­is ne­ge jaar oud is, toe is sy ma in ’n ver­skrik­li­ke mo­tor­on­ge­luk. On­ge­luk­ke ge­beur dik­wels – en mak­lik – op die grond­paaie van ons wil­de Noor­de. ’n Mo­tor tref ’n gruis­bank en gly, ’n koe­doe spring voor jou in, ’n band bars. Lou­is se ma oor­leef die on­ge­luk, maar sy is erns­tig be­seer. Sy is eers lank in ’n hos­pi­taal, en toe nog lan­ger in ’n re­ha­bi­li­ta­sie­sen­trum. By die huis is Lou­is en ’n klei­ner sus­sie. Lou­is se pa pro­beer die huis­hou­ding aan die gang hou, hy ont­hou om so nou en dan krui­de­niers­wa­re te koop, maar hy moet ook boer; die plaas kan nie net lê en ver­gaan nie. Die fa­mi­lie en bu­re help waar hul­le kan, maar dié hulp strek ook maar net so ver.

Dit is Lou­is wat skie­lik groot­word en sy ma se rol in die huis oor­neem. Ne­ge jaar, maar hy sorg vir sy k­lein­sus, troos haar in die aan­de as sy na haar ma ver­lang. Hy sorg dat die was­goed ge­was word, die werf­die­re ver­sorg word, die huis net­jies is, soos sy ma daar­van hou. Hy maak kos, twee e­tes per dag, en skool­brood­jies vir sy sus­sie. Hy leer om te toor, want hy maak kos uit am­per niks. As daar niks in die yskas is nie, gaan hy groen­te­tuin toe om te kyk wat hy kan ge­bruik, of hoen­der­hok toe vir vars ei­ers.

Dit gaan, on­der die om­stan­dig­he­de, goed met al­mal. Hul­le wag dat hul mooi ma weer ge­sond word.

Maar soms word die le­we te swaar vir ’n seun­tjie wat net ne­ge jaar oud is.

Op die dae dat Lou­is se ver­lan­ge na sy ma te veel word, gaan hy na haar ka­mer. Hy vat een van haar kerk­hoe­de uit die hang­kas. Hy vat haar don­ker­bril wat nog al­tyd op die kos­kas lê. Hy vat een of twee stoel­kus­sings. Hy vat die werf­bak­kie se sleu­tel, want plaas­kin­ders kan be­stuur reeds voor­dat hul­le skool toe gaan. Hy sta­pel die kus­sings voor die stuur­wiel en sit lek­ker hoog. Hy sit sy ma se don­ker­bril en kerk­hoed op. En hy ry die 80 km U­ping­ton toe. Na sy ou­ma toe, wat vir hom in haar arms toe­vou en kof­fie met kon­dens­melk gee, en die mid­dag se oor­skiet­kos. Hy kui­er by sy ou­ma in haar kom­buis tot­dat hy weer kans sien vir aan­gaan.

Teen die tyd dat hy die aand­kos moet maak, is hy weer tuis. Nie­mand weet hy was weg nie.

Die spiet­kop op die dorp bel plaas toe die eer­ste keer toe hy dit sien. Hy sê vir Lou­is se pa: “Ek is so bly jou vrou is weer tuis! Wan­neer het sy uit­ge­kom?”

Al die an­der ke­re kyk die spiet­kop an­der­pad as Lou­is se ma met haar kerk­hoed U­ping­ton toe ry. Tot die dag dat sy weer reg­tig tuis is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.