Ag­ter­blad Ka­rin Bryn­ard ge­sels

As die be­foe­ter­de voet EER­STE UIT DIE KATEL SWAAI

Tuis - - CONTENTS -

Daar’s klaar ge­noeg woe­de in die wê­reld, sê Ka­rin Bryn­ard. Dalk moet sy op­hou om daar­toe by te dra.

SSoms ge­beur dit mos net. Jy word wak­ker en die wê­reld sit skots en skeef. Iets het oor jou le­wer ge­loop. Jy weet nie wat dit is nie, maar jy weet dit sit jou dwars. Voor­beeld: Jy maak jou ge­wo­ne ma­ke met die goue og­gend­stond en t­rek die slaap­ka­mer­gor­dy­ne oop. Die een gor­dyn is steeks. Een of t­wee trek­slae help nie. Met die derde een “trip” jou “flip­pit-switch” en breek daar ’n wil­de woe­de in jou los. Jy moet keer of jy ruk die he­le gor­dyn daar af en gooi hom op die vloer. En spring op hom. En smyt hom dan met groot ge­weld by die ven­ster uit.

I­neens dink ek aan my kwaai­kop-ou­pa. As hy die dag sy be­foe­ter­de voet eer­ste uit die katel ge­swaai het, het mens en dier dit ont­geld. En dit was nie lig­te mu­siek nie, hier­die ont­gel­de­ry van hom. Die men­se sê hy kon ’n bob­be­jaan uit ’n berg uit skel. En jy wou nie rond­staan as sy ge­skel in daad­krag ma­ni­fes­teer nie. Hy was ’n groot man, ver oor die ses voet in die ou taal en so sterk soos ’n bees. Hy kon ’n sak mie­lies aan die ore vat en met ge­mak op ’n wa lig. (Ek weet nie wat ’n sak mie­lies weeg nie, maar glo dit moet in die koers van ’n Mi­ni Cooper wees.)

Daar word steeds in die Han­tam­ge­wes­tes staal­tjies ver­tel van ou Mat­tie Bryn­ard se knor­re­bol­lig­heid. Een sto­rie wat my as kind diep ge­tref het, is dié een van die ou kat­jie.

Ou­pa het blyk­baar een mô­re weer met so ’n moe­ra­ke­ra­sie op­ge­staan. Ou­ma en die se­we kin­ders was in die plaas­kom­buis doe­nig toe hul­le sy swaar voet­val in die gang hoor. Die vol­gen­de oom­blik het hy aard­skud­dend ge­brul en die kom­buis op een been bin­ne­ge­bars – bloed aan sy groot­toon. Blyk­baar het die werf­kat­te se kat­ter­maai hom heel­nag ge­trei­ter. En toe hy by die wa­kis ver­by­loop, sit die hoof-mi­aau­er daar en skree dood­lui­ters vir kos. Na­tuur­lik het Ou­pa ’n hef­ti­ge skop na die kat ge­mik, maar tref toe die kis.

Sul­ke tyd, het my pa ver­tel, moes hul­le kin­ders laat spaan­der, want nie­mand wou bin­ne blik­sem­straal­af­stand van Ou­pa af rond­hang nie.

Nou ja, ek skop wrag­tag nie kat­te nie. Ek trap skaars tuin­slak­ke dood. Maar as ek om­ge­ël­lie is, kou ek lag-lag jou ore af. En dit pla my, die i­dee dat ek straks na my be­tjoink­ste ou­pa aard.

Ek vra my ou­sus toe sy bel. “Jong, vra lie­wer na wat on­der al jou woe­de sit,” sê sy fi­lo­so­fies. “Dis dalk din­ge wat jou angs­tig maak. Selfs hart­seer – want ons het mos maar al­mal saw­we kol­le waar die hart­seer woon.”

Die woe­de, ver­dui­de­lik sy, is eint­lik ’n se­kon­dê­re e­mo­sie. As jy sy skirts ’n bie­tjie op­lig, ont­dek jy die groot­me­ne­re. Goed soos bang­wees en on­se­ker­heid, skaam­te, ver­driet. Dis nie lek­ker ge­voe­lens om te hê nie, so jy’s ge­neig om te wil weg­hard­loop. Woe­de, daar­en­teen, is mak­lik en ons is goed ge­oe­fen daar­in. Jy vaar uit, of jy skel en gooi ’n heer­li­ke vol­bloed-vloer­moer. Vir ’n oom­blik voel jy in be­heer, al is jy bui­te be­heer. Jy voel min­stens min­der mag­te­loos.

Ek dink aan al die woe­de in ons land. Is dit on­se­ker­heid? Vrees? Al­mal is so ont­set­tend kwaad. En Ou­pa? Dalk was hy net broos, im­mer on­se­ker oor boer in die ge­na­de­lo­se Ka­roo? En ek? Wat sit on­der al my sik­ke­neu­rig­heid? Ver­lan­ge, be­sef ek laat­aand. Ek ver­lang na ’n kind wat in ’n ver land woon en van wie ek ’n ruk lank nie ge­hoor het nie. My ver­lan­ge laat my be­hoef­tig voel. En ’n bie­tjie ver­leë. En een­saam. En ja, laat ek maar er­ken, ook ’n bie­tjie hart­seer. Dié ont­dek­king bring on­ver­wags ’n groot kalm­te oor my. Ek gaan maak ’n be­ker tee en vat dit met ’n boek saam bad toe, gooi ’n ek­stra dop­pie roos­o­lie in die warm wa­ter. Met die in­gly voel ek hoe my skerp kant­jies weg­smelt en ek lig­ter raak. Woe­de, be­sef ek i­neens, is ’n ge­weer wat na t­wee kan­te toe skiet. Jy mik dalk bui­ten­toe, maar jy ver­wond ook na bin­ne.

Hoe­veel won­de is daar nie reeds in hier­die land van ons nie, won­der ek. Ons leef in ’n see daar­van. Ie­wers moet ons op­hou daar­mee.

Ek steek ’n kers aan en s­tuur ’n stil ge­bed in die ro­si­ge stoom­walms op: Mag dit hier be­gin. Som­mer by my.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.