Vier die sonskyn!
Midsomerdag is die langste dag van die somer, en in die Suidelike Halfrond is die somersonstilstand vanjaar op 21 Desember om 06:19.
Voor die tyd van horlosies het mense die son se beweging gevolg om die tyd te bepaal. Die vroegste aangetekende sonwysers is skadu-wysers uit die antieke Egiptiese en Babiloniese sterrekunde, met die wêreld se oudste sonwyser (circa 1500 v.C.) wat in Egipte se Vallei van die Konings ontdek is. Die antieke Grieke het sonwysers ontwerp met verbinde sirkels en ’n pylvormige wyserpen; horisontale sonwysers het ’n plat oppervlak en is gewoonlik op ’n voetstuk gemonteer.
’n Sonwyser moet staangemaak word waar dit volson gaan kry, met die wyserpen wat op die regte breedteligging gestel is. In die Suidelike Halfrond moet dit na ware suid wys.
Al is dit aanvanklik gebruik om die tyd te bepaal, is sonwysers ’n elegante element in formele of kruietuine, en lyk dit sjarmant in kothuistuine.
’n Sonwyser op ’n voetstuk trek veral die aandag wanneer dit by ’n kruising tussen twee paadjies staan.
ENKELE SONWYSERS IN PROMINENTE TUINE IN SUID-AFRIKA
• Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie-sonwyser, gedateer 1781, in die Kompanjiestuin in Kaapstad.
• Die sonwyser in die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin, wat J.R. Miller in 1920 by die Koninklike
Sterrewag in Kaapstad gemaak het en aan die tuin geskenk is.
• ’n Uiters ongewone sonwyser by die Nasionale Dieretuin in Pretoria.
• ’n Groot vertikale sonwyser wat Danie du Toit in
1965 op Napier staangemaak het.
• Die sonwyser by die digter C.J. Langenhoven se huis, die nasionale gedenkwaardigheid Arbeidsgenot, op Oudtshoorn.
• ’n Groot sonwyser by Hankey, wat in 1989 gemaak is.