TV Plus (Afrikaans)

Groot besluit

Rhafiek wil nie meer by Suidooster Eiendomme werk nie en moet dalk tussen Nicci en sy werk kies.

- Suidooster

Ma.-Do. kykNET (*144) en kykNET & kie (*145) 18:00

Rhafiek (Irshaad Ally) is terug by Suidooster Eiendomme nadat hy verkeerdel­ik van bedrog beskuldig is – maar die atmosfeer is stram.

Rhafiek het eers lekker by die eiendomsag­entskap gewerk, maar daar is nou ’n bitter smaak in sy mond. “Hy moet steeds saam met die mense werk wat dink hy is skuldig aan bedrog,” vertel Irshaad. Tim (Marco Spaumer) wou op Rhafiek wraak neem omdat Rhafiek sy en Nicci (Gerwen Simon) se voorgenome huwelik in Augustus gekelder het. Hy het die geld van ’n huurder wat in Suidooster Eiendomme geplaas is, verduister, en al die vingers het na Rhafiek gewys.

Rhafiek se baas en Nicci se pa, Ian (Abduraghma­an Adams), het Tim drie weke tevore uitgevang en Rhafiek se afdanking is opgeskort. Gelukkig. “Maar dis nie so maklik om te vergewe en te vergeet nie,” sê Irshaad.

Tim het nou ’n nuwe plan om Rhafiek en Nicci uiteen te jaag: Hy laat ’n vorige meisie vir Rhafiek bel en vir hom werk by Bekhumbuzo Eiendomme in Durban aanbied. Wanneer Rhafiek Nicci op Woensdag 21 Desember van sy werks- aanbod vertel, is sy ontsteld en begin weer oor hul toekoms twyfel.

ONSEKERHEI­D

Nicci se reaksie op sy werksaanbo­d ontstel Rhafiek. “Sy sê vir hom hy moet die aanbod aanvaar en dit maak Rhafiek seer, want hy het gedink sy sal hom smeek om in die Kaap te bly,” sê Irshaad. “Haar kilheid is soos ’n klap in sy gesig en hy wonder of Nicci ernstig is oor hul verhouding.” Dinge tussen hulle was die afgelope weke stormagtig. “Dis hoekom Rhafiek besluit het om die aanbod eers stil te hou, want omdat hy onseker is oor sy toekoms wou hy nie onnodig spoke opjaag nie,” sê Irshaad.

BESKULDIGI­NGS

Tim neem weer sy kans waar om Nicci te ondersteun en op Woensdag 28 Desember kan Rhafiek sy woede nie langer onderdruk nie. “Rhafiek beskuldig Nicci daarvan dat sy steeds iets vir Tim voel,” sê Irshaad.

Tog glo Rhafiek steeds hy en Nicci is vir mekaar bedoel, en op Dinsdag 3 Januarie vra Rhafiek Nicci om saam met hom Durban toe te gaan. Maar voordat sy kan antwoord, word sy flou. Tim lag stilletjie­s in sy mou oor sy nuwe planne begin werk. Maar dit lyk of dit nou ten koste van Nicci is . . .

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa