Soveel bedrog
Liefde, leuens en lewens kom ongelooflik bymekaar in Imposters.
Een gesig, vier skuilname en ’n drietal verwarde eks-gades met twee dinge gemeen: Hulle is beroof van hul geld en hul hart in die donker komedie Imposters (2017-nou). Maddie Jonson (Inbar Lavi) is die gesig van ’n bedrieërspan wat op sendings gestuur word deur die geheimsinnige Doctor (Ray Proscia), en dis haar taak om met hul teikens te vry en met hulle te trou. “Ek’s mal oor hoe kreatief sy is en hoeveel pret sy het,” sê die gebore Israeli Inbar. “Dit maak nie saak of sy Maddie of Ava, Alice, CeCe of Saffron [haar name tot dusver] is nie, sy’s altyd 10 tree voor die een teen wie sy te staan kom.”
MADDIE SE TEIKENS Manlief #1
Richard (Parker Young) is ’n mislukte atleet wat nou karre verkoop en wie se mooiseungesig vergoed vir sy gebrek aan talent. Hy het die kat- enmuisspeletjie begin toe hy sy vervanger in episode 1 opgespoor het.
Manlief #2 Ezra (Rob Heaps) is ’n ryk jong man wat verpletter is deur “die een” wat hom gelos het. Hy word nou aangespoor deur wraakgedagtes, want hy wil hê Maddie moet boet.
Kêrel #1 Die bankier Gary Heller (Aaron Douglas) stel Maddie (as Saffron) as sy persoonlike assistent aan en in episode 3 (18 Maart) draai sy hom om haar pinkie. Maar in episode 4 (25 Maart) neem dinge ’n nare wending nadat Gary sy liefie sien saam met . . .
Kêrel #2 Die ryk tegnologieou Patrick (Stephen Bishop) is Maddie se wegbreek van haar leuens. Vir die eerste keer is sy haarself, want hy’s (nog) nie haar teiken nie – sy het Patrick in ’n koffiewinkel ontmoet, maar hy kan haar en die span duur te staan laat kom.
Vrou #1 Jules (Marianne Rendón) help Ezra en Rich om “hul” vrou met ’n paar van haar eie truuks te vind.
UMA DIE HUURMOORDENAAR
Wees aan die einde van episode 3 op die uitkyk na Uma Thurman (Beatrix Kiddo in die Kill Bill-flieks, 2003 en 2004). Sy lyk goed as die gewetenlose huurmoordenaar Lenny Cohen.