Hier volg die nuus
Die nuwe weergawe van die aksiefliekreeks Training Day (2017-nou) het nie net sy hoofster verloor toe Bill Paxton in Februarie oorlede is aan ’n beroerte ná hartchirurgie nie, dit het ook enige hoop op ’n hernuwing verloor. Al is die seisoen klaar verfilm met Bill se twyfelagtige polisiekarakter Frank in al die episodes, sê bronne “daar is nou baie min kans op ’n seisoen 2”. Melissa Ordway (Abby in Y&R, 1973-nou) en Justin Gaston (eksBen in Days, 1965-nou) is trotse ouers nadat hulle hul babadogter, Olivia, wettig aangeneem het. Melissa het die foto op Instagram geplaas met die byskrif: “Omring deur ons familie, het die regter Olivia amptelik ’n Gaston gemaak (al was sy reeds in ons hart)”. Die komediereeks The Big Bang Theory (2007-nou) is gereed vir ’n hernuwing van twee seisoene wanneer seisoen 10 in Mei eindig. En daar is gerugte dat die hoofsterre Jim Parsons, Kaley Cuoco en Johnny Galecki (Sheldon, Penny en Leonard) bereid is om $100 000 (R1,3 m.) minder betaling te ontvang sodat hul medesterre Mayim Bialik (Amy) en Melissa Rauch (Bernadette) meer kan verdien. Die hooftrio kry $1 miljoen per episode. Benedict Cumberbatch keer terug TV toe ná die vierde seisoen van Sherlock (2010-nou). Die 40-jarige gaan die uitvoerende vervaardiger wees van en speel in die vyfdelige dramareeks Melrose, ’n verwerking van Edward St. Aubyn se 2012-romans met dieselfde naam. Benny sal ’n “aristokratiese en histeries snaakse rokjagter speel wat sukkel met herinnerings aan hoe hy as kind mishandel is”. Emma Caulfield, bekend as die demoon Anya Jenkins in die fantasiereeks Buffy, The Vampire Slayer (1997-2003), is ook terug op die kassie nadat sy 14 jaar eenmalige verskynings in reekse soos Monk (2002-2009) in 2004 en Leverage (20082012) in 2011 gemaak het. Sy het ’n hoogs geheime gasrol gekry in seisoen 3 van die sci-figruwelreeks Fear The Walking Dead (2015-nou), wat na verwagting later vanjaar uitgesaai sal word. Die brandweerreeks Chicago Fire (2012-nou) het ’n sexy nuwe ster bygekry. Kamal Angelo Bolden, oftewel Julius (JooJoo) Beeman in die aksiereeks Rosewood (2015-nou), het die rol gekry as die “charismatiese en lojale brandbestryder” Kannell. Hy sal sy debuut later in die huidige vyfde seisoen maak. Die internet-videoreus YouTube begin sy eie intekenaardiens, YouTubeTV. “Dis ’n poging om TV te ontwikkel,” verduidelik die maatskappy se uitvoerende hoof, Susan Wojcicki. Intekenaars sal toegang kry tot minstens 40 kanale en onbeperkte internetbêreplek teen $35 (R450) per maand wanneer die diens later vanjaar begin. Stephen Moyer ruil vampiere vir mutante in True Blood (2008-2014) in die nog ongetitelde X-Mensci-fi- dramareeks op FOX. Die 47-jarige Britse akteur sal die rol vertolk van Reed, ’n prokureur wat sy gesin probeer beskerm nadat hy uitgevind het sy kinders het mutant-magte.