Brent Owens: Extreme, Authentic & Unwrapped
Die Australiese konstruksiewerker Brent Owens het in 2014 modder vir meel verruil toe hy seisoen 6 van die realiteitskosprogram MasterChef Australia (2009-nou) gewen het. Nou is die 27jarige terug op die kassie met sy eie kosprogram, Brent Owens: Extreme, Authentic & Unwrapped (2016-nou). En seisoen 1 het ’n plaaslike geurtjie – Brent het dit in Suid-Afrika kom verfilm.
“Toe ek die kompetisie [MasterChef] wen, het dit my horisonne verbreed,” sê Brent. “Dit het my avontuurlus aangewakker en het daartoe gelei dat ek meer wil doen, meer wil sien en soveel meer wil eet. Dis toe ek besluit het om die wêreld se verskillende smake te gaan verken.” Hy het spesifiek Suid-Afrika gekies, want die land het baie om te bied. “Dit het ’n oorspronklike, uitsonderlike en kultuurryke kookkuns.”
Wat Brent van ander oorsese foodies onderskei is dat hy nie belangstel in deftige eetplekke en toeristetrekpleisters nie: Hy wil eerder saam met die plaaslike mense op die platteland, in die stede en in landelike gebiede eet, drink en kos maak. En hy geniet avonture soos staptogte, haaihokduik en om teen sandduine af te gly. Die 13 episodes sluit beeldmateriaal in die dokkiestyl in wat tot die program se outentieke gevoel bydra, met die kameraspan wat dan en wan in fokus spring. Maar alles is nie rooskleurig nie – Brent moet bv. sy hoogtevrees en oorentoesiastiese volstruise trotseer en verlang huis toe.
Hy het iets teruggegee aan die gemeenskappe wat hy besoek het deur as vrywilliger by ’n sopkombuis te werk. “Ek het baie oor Suid-Afrika en sy mense geleer,” sê Brent. “En ek het goeie kos geëet – baie goeie kos!”