Komedie: The Detour, Wrecked, Imposters
Ná The Detour sal gesinsvakansies nooit weer dieselfde wees nie.
Wat kan skeefloop op ’n gesinsuitstappie van New York na Florida? Vra die Parkers in The Detour (2016-nou). Deur terugflitse en die polisieondervraging kan ons sien waar alles begin skeefloop vir Nate (Jason Jones), sy hoogs gespanne vrou, Robin (Natalie Zea), en hul kinders, Delilah en Jared (Ashley Gerasimovich en Liam Carrol), tydens hul ses dae lange rit. En dis alles weens Nate se leuen: hy’s in die pad gesteek omdat hy ’n onthulling gemaak het by ’n farmaseutiese maatskappy en ’n instorting by die werk gehad het. Eintlik is die hele padreis net ’n rookskerm vir Nate om sy katastrofe reg te stel.
REGTEWÊRELD-PADREIS
Jason is nie net die reeks se ster nie, hy’s ook die vervaardiger en tesame met sy vrou, Samantha Bee, is hulle die skeppers. “Dit begin soos die padreisflieks, maar daar is ’n kinkel,” sê die 43-jarige Jason. “Dis ’n reis wat iets baie anders word.” En hy weet waarvan hy praat – die reeks is losweg gegrond op sy uitstappies saam met Samantha en hul kinders, hul seun Fletcher en dogters Piper en Ripley. “Ek wou ’n reeks maak oor ’n gesin wat nie te sentimenteel is nie – ek haat dit. Ek wou net ’n reeks skep wat eerlik is. Met ’n volwasse tema,” sê Jason laggend.
PROBLEME BY DOSYNE
En hy spot nie oor die dinge wat die Parker- gesin in die tien episodes gaan beleef nie. Daar is voedselvergiftiging by ’n eetplek in episode 4 (17 Maart) en ’n oornagstop by ’n herehuis met ’n sappige geheim in episode 6 (24 Maart). In episode 8 (31 Maart) is die aap uit die mou wanneer Nate se leuens hom inhaal in ’n dorp waar dit die hele jaar Kersfees is. ’n Reis was nog nooit so prettig en terselfdertyd so goor nie.