Vrou van vele talente
Sy’t ’n klomp hooi op haar vurk, maar Rozanne McKenzie is ’n meester van balans.
Rozanne McKenzie (34) is ’n bekende gesig as mede-aanbieder van Nasie In Gesprek (kykNET, 2017) en Flits (kykNET, 2016-nou), maar min kykers besef sy is ook agter die skerms baie bedrywig. Buiten TV-aanbieder is sy ook radioverkeer s verslaggewer, mededirekteur van die produksiemaatskappy IdeaCandy Eiendoms Bpk., en ’n toegewyde ma en vrou. Rozanne vertel sy moet daagliks haar bedrywige skedule haarfyn beplan.
VAN GIM NA DIE MIKROFOON
Rozanne staan elke weekoggend om 04:15 op en klok 05:00 by die gimnasium in, waar sy omtrent ’n uur lank oefen. Daarby oefen sy Saterdagog- gende by Cactus Conditioning en doen bokssessies saam met haar afrigter, Grant Myburg.
Ná die gim ry Rozanne na Midrand, waar sy ontbyt eet en en teen 08:00 met voorbereiding begin vir die verkeersverslae op die radioprogram The Workzone, wat van 09:00 tot 12:00 op Jacaranda FM aangebied word. Buiten die verkeersverslae doen sy ook stemwerk vir die stasie en radio-advertensies.
VOORLEGGINGS EN FLITS
Smiddae werk Rozanne by IdeaCandy Eiendoms Bpk. in Ferndale, waar sy ’n ander hoed as mededirekteur opsit. “Van my pligte behels voorleggings vir borgskappe, en ek leer baie van begrotings en vervaardiging by my mededirekteur, Wim Steyn,” vertel sy.
Donderdae lyk haar skedule anders. As mede-aanbieder van die aktualiteitsprogram Flits moet Rozanne van 19:00 tot omtrent 22:30 werk (Flits word Donderdae van 22:00 tot 22:30 uitgesaai). “As ek in die middag nog by IdeaCandy moes werk, sou my dag net te lank word. Daarom neem ek in die middag ’n blaaskans,” sê Rozanne. Flits is so reg in haar kraal, vertel Rozanne, want die kollig val op onderwerpe waarin sy belangstel, soos nuwe neigings, flieks, boeke, kos en restaurante.
VAN VERMAAK NA LANDBOU
Nasie In Gesprek is nog ’n uitdaging vir die onstuitbare Rozanne. In die program val die kollig op plaaslik vervaardigde produkte, en word die produkte van die plaashek tot op jou tafel gevolg. “Ons verfilm drie episodes per dag twee keer per maand. Die reeks word ook in Engels opgeneem en as Nation In Conversation op Business Day TV en Soweto TV uitgesaai,” vertel sy. Die opnames word tussen haar ander werksverpligtinge geskeduleer.
GESINSTYD
Rozanne se musikantman, Chris Bishop, ’n gebore Brit, is ’n groot steunpilaar. Hy sorg dat hul seuntjie, James (2), weekoggende by die kleuterskool besorg word voor sy werkdag as hoof van die Capegate Miagi Centre for Music in Soweto begin. Die besige egpaar sorg dat hulle hul dagboeke koördineer.
Chris en Rozanne neem gereeld aan wedlope soos die Warrior Race deel. Naweke ontspan die gesin tuis en lees, bou legkaarte of stap in die botaniese tuine. “My ma, Ann, is my rolmodel en het my geleer om hard te werk – en dat ek alles wat ek aanpak, nog beter kan doen,” vertel Rozanne trots.