Sepies in die VSA
BOLD
Die Forresters is woedend en vol vrae ná Brooke en Ridge se troue afgestel word. Quinn se skuldige gewete werk oortyd wanneer Eric die clan bymekaarkry om hulle in te lig wat skeefgeloop het, en Katie geniet haar nuwe mag en treiter en dreig Quinn om Eric te vertel sy’t hom met sy seun Ridge verkul. Ridge smeek Brooke om hom vir sy yslike oordeelsfout te vergewe, en Darlita kry die verrassing van haar lewe wanneer sy na die beeldmateriaal van Coco se spioenasiekamera kyk.
DAYS
Salem se inwoners verenig teen Deimos en lees hom die leviete voor, en Sonny en Chad stem saam Deimos moet gaan. Paul vra Sonny om sy missie te laat vaar om Deimos te vernietig, en later geniet Sonny en Paul ’n aandjie uit. Marlena en Kate deel skemerkelkies en herinnerings, en Abby kla by JJ oor Chad wat by Gabi rondhang. Nie almal is in ’n feestelike stemming wanneer Chad en Abby hul huweliksbeloftes hernu nie, en Rafe word gedwing om teen sy pa, Eduardo, op te tree. Rafe en Hope beplan om Deimos aan te vat, en Nicole vaar uit teen die slymbol Scooter omdat hy weer na haar dae in volwasseflieks verwys.
Y&R
Cane is onkant gevang wanneer Juliet saam met Lily by die Dare-veldtog betrek word, en hy het ’n terugflits na sy aand in Tokio saam met Juliet en wonder wat Juliet se agenda is om ’n werk by Brash & Sassy te probeer kry. Gloria wil Chloe uit Kevin se lewe kry, maar Michael tik haar oor die vingers wanneer hy besef waarmee sy besig is. Billy soen Victoria en hoop sy kan hom vergewe, en Ashley wonder oor hul ouderdomsverskil wanneer haar verhouding met Ravi ernstiger word. Phyllis gee Ravi goeie raad oor Ashley, en Scott begin Victor se verlede ondersoek.