Vriendin in nood
Ben kom tot Nikiwe se redding wanneer sy hulp nodig het.
Benjamin le Roux (Arno Marais) het van ’n ryk snuiter in ’n volwasse sakeman verander, en sy terugkeer na The Deep in Junie het saamgeval met die samesmelting van die mynreuse Sibeko Gold en Haines International. Maar dis nie net besigheid nie – Ben se aankoms is ook ’n blye weersiens vir hom en sy vriendin Nikiwe (Linda Sokhulu), maar ’n bitter pil vir Nikiwe se jaloerse eks, Gabriel (Aubrey Poo). En Ben speel op Woensdag 5 Julie die superheld wanneer die aan-af-paartjie se verskille lelik raak.
VEILIG EN VERSIGTIG
“Ben het gesien hoe Gabriel Nikiwe hardhandig behandel [op Vrydag 30 Junie, toe hy haar wou slaan omdat sy hom wil verlaat], en Ben het nou ’n persoonlike vendetta teen Gabriel,” sê Arno. “Hy wil nie hê sy vriendin moet seerkry of mishandel word nie, en hy maak seker dit gaan nie gebeur nie deur ’n wakende oog oor Nikiwe te hou en Gabriel op ’n afstand te hou.” Dit beteken nie Ben probeer by Nikiwe aanlê nie – Arno verduidelik die twee is net vriende en Ben gee om vir haar: “Dis nog te gou om enigsins van ’n romantiese verbintenis te praat.”
LOERDERS EN BELOERDERS
Gabriel besef nie hy het iemand wat hom dophou op Donderdag 6 Julie nie, maar “Ben word obsessief oor Gabriel en maak seker hy bly weg van Nikiwe af”, vertel Arno.
Terselfdertyd dink Gabriel Ben en Nikiwe het ’n affair – hulle is hegte vriende en die tydsberekening van Ben se terugkeer lyk verdag. Sy vermoedens word verder aangevuur wanneer Ben Nikiwe op Vrydag 7 Julie gerusstel – sy bly angstig oor Gabriel wat haar dalk beloer. Arno sê “iets verander in Ben en hy is vasbeslote om Nikiwe weer haar ou, vrolike self te laat word. Hy speel sielkundige, raadgewer, emosionele ondersteuner – alles in een.”
TJOEKIE TOE?
Ben is geen swaap nie, en het dikwels in die verlede The Deep se gemene Barker Haines (Robert Whitehead) teengegaan. En Ben se gerondsnuffel word op Woensdag 12 Julie beloon, wanneer hy inligting kry oor Gabriel se piramiedeskema van Januarie vanjaar. Hy beplan om dit te gebruik om die skelm Gabriel agter tralies te kry.
“Maar dis gaan nie so maklik wees nie,” verklap Arno. “Die oudpastoor is meesterlik daarmee om sy spore dood te vee, en Ben kan dalk te laat wees om hom te stuit.” Dit lyk of Nikiwe se ridder sy kop in ’n byenes gesteek het . . .