Kennedy-sending
Die onnie Jake reis terug in tyd om JFK te red in 11.22.63.
Die wêreld sou ’n ander plek gewees het as iets soos die sluipmoord op pres. John F. Kennedy nooit gebeur het nie. Dis die uitgangspunt van die tydreis-sci-fi- dramareeks 11.22.63 (2016-nou), gegrond op die gelyknamige roman deur die rillerskrywer Stephen King. “Ek was doodbang,” bieg Stephen, en voeg by: “Ek het ’n bietjie soos die hoofkarakter Jake (James Franco) gevoel, wat met die verlede inmeng. Dis asof ek die geskiedkundige figure lewend sien word het.”
In die agt episodes van seisoen 1 reis die hedendaagse onderwyser Jake Epping (James) deur ’n portaal terug in tyd na 1960, waar hy moet keer dat Lee Harvey Oswald JFK skiet. Maar daar’s ’n probleem: dit kan eers oor drie jaar gebeur en Jake kan dinge nie aanjaag nie. Dit beteken drie jaar van wag, beplanning en die dophou van Lee, ’n onstabiele soldaat. Hoe meer Jake klein dingetjies in die verlede verander, hoe groter is die uitwerking op sy missie. In die geval is minder beter en dis belangrik as hy JFK wil red.
HULP EN HINDERNISSE
Jake kry hulp van party mense en word deur ander teruggehou. Buiten sy bibliotekaresse-liefdesbelangstelling Sadie Dunhill (Sarah Gadon, Ruby Ogden in die dramareeks Murdoch Mysteries, 2008-nou) is daar ook . . .
Al Templeton (Chris Cooper, J.D. Salinger in die 2015fliek Coming Through The Rye) is Jake se vriend wat hom na die verlede stuur deur ’n portaal in sy eetplek se spens. Hy gee Jake ook al sy navorsing vir die sending.
Bill Turcotte (George MacKay) help Jake op Lee spioeneer indien Jake Bill help om Sadie en haar familie van Bill se gevaarlike eks-swaer Frank te red.
Frank Dunning (Josh Duhamel, Danny in die aksiereeks Las Vegas, 2003-2008) is die pa van een van Jake se hedendaagse studente. Hy’s gewelddadig, humeurig en hou nie van Jake nie. En Lee Harvey Oswald (Daniel Webber), die verwarde soldaat wat verraaier word en die wêreld gaan verander deur die president dood te skiet.