TV Plus (Afrikaans)

Op die oorlogspad

Okkie verloor sy humeur en slaan Ferdi met die vuis.

-

Binnelande­rs Weekdae kykNET (*144) 19:30

Verpleegst­er Naomi Ferreira (Je-ani Swiegelaar) is stukkend wanneer sy op Vrydag 12 Januarie by haar pa, Okkie (Ben Kruger), in sy kantoor bieg dat haar verloofde, Ferdi (Cobus Venter), haar die afgelope maand emosioneel en fisiek mishandel het. “Okkie is erg geskok en woedend wanneer Naomi hom alles vertel,” sê Ben.

Op Maandag 15 Januarie gaan haal ’n ontstoke Okkie Naomi se besittings by Ferdi se woonstel en laat Ferdi goed verstaan hy moet wegbly van sy dogter. Die volgende dag het Naomi die nuus met almal gedeel: haar verlowing is verbreek, en sy wil nie daaroor praat nie. “Naomi is baie lief vir Ferdi en is

bekommerd of hy sonder haar regkom. Wanneer sy niks van hom hoor nie, bel sy hom, maar dis ’n groot fout, want hy probeer al die blaam op haar plaas,” vertel Je-ani.

Ferdi smeek Naomi vir ’n tweede kans, maar op Donderdag 18 Januarie begin Ferdi haar dreig en sê Naomi en haar familie gaan nog spyt wees. En nou sien ’n besorgde Okkie rooi . . .

VUISGEVEG IN BINNELAND

Ben sê Okkie wil die volgende dag, op Vrydag 19 Januarie, die polisie by die saak betrek. “Naomi, of Mimi soos Okkie haar noem, is sy oogappel. Hy sal berge versit om haar gelukkig te hou,” sê Ben. Naomi probeer keer, voeg Je-ani by. “Sy vra Okkie mooi om nie in te meng nie en sê sy sal die probleem self uitsorteer.”

Maar Ferdi daag dieselfde dag by die hospitaal op om weer met Naomi te praat en vra om verskoning vir die kere dat hy sy humeur verloor het. Okkie sien van waar hy staan hoe sy dogter en Ferdi gesels en die volgende oomblik storm hy op Ferdi af en slaan die jongman met die vuis.

Naomi vra onmiddelli­k verskoning vir haar pa se gedrag, maar haar woorde kalmeer die ontstoke Ferdi glad nie. “Naomi en haar stiefma, Ilse (Hannelie Warren), is albei bekommerd Ferdi gaan ’n klag van aanranding teen Okkie lê,” vertel Je-ani. “Die ding het nou lelik handuit geruk en Naomi is vies omdat haar pa sy humeur verloor het.” VERNEDERIN­G EN GEEN BEROU Ferdi is vernederd, sê Cobus. “Ferdi is gewoond daaraan om alles en almal om hom te beheer en Okkie is vir Ferdi ’n groot bedreiging. Niemand durf so teenoor hom optree nie. In sy kop is dit nou oorlog!”

Okkie se woede keer Ferdi ook nie om Naomi uit te los nie. “Okkie se uitbarstin­g moedig Ferdi eerder aan om Naomi verder van haar familie weg te kry.”

En gaan Ferdi hoegenaamd berou toon? “Watwo! Ferdi dink altyd sy optrede is geregverdi­g en as hy berou toon, is dit manipulasi­e,” sê Cobus. “Ferdi het ’n verwronge idee van wat liefde is en hoe ’n liefdesver­houding werk. Hy is steeds lief vir Naomi en gee nie maklik moed op nie. As hy iets wil hê, sal hy dit kry.”

Maar nie as Okkie ’n sê het nie, al kan Ferdi die vuishou teen hom gebruik.

 ??  ?? Okkie is woedend omdat Ferdi Naomi so mishandel.
Okkie is woedend omdat Ferdi Naomi so mishandel.
 ??  ?? Okkie gryp Ferdi en slaan hom met die vuis.
Okkie gryp Ferdi en slaan hom met die vuis.
 ??  ?? Naomi bieg by haar pa oor Ferdi se gedrag.
Naomi bieg by haar pa oor Ferdi se gedrag.
 ??  ?? Louis probeer Okkie keer.
Louis probeer Okkie keer.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa