Die groot reünie
Die Voetspore- manne herleef hul vorige tien reise.
Voetspore-Reünie Seisoen 7 Sondae SABC2 (*192) 19:00
Met die mylpaal van tien suksesvolle Voetspore-reise agter die blad het die ekspedisie-leier, Johan Badenhorst, besluit dis tyd om al die lede wat by die reise betrokke was, bymekaar te kry vir ’n lekker reünie. “Ek het gedink dit sou interessant wees om nabetragting te hou oor hoe Afrika, sowel as ons self, sedert die eerste Voetspore-seisoen in 2000 verander het en om weer op ons ou spore terug te loop,” vertel Johan. En net soos die vorige Voetsporeekspedisies is hierdie reis ’n groot avontuur vol hoogtepunte.
TERUG OP HUL SPORE
Daar is eers gewik en geweeg watter roete om met dié spesiale seisoen te volg, en uiteindelik het die manne besluit om hul baanbrekerreis van 2000 te herhaal. “Ons het dwarsoor suidelike Afrika gereis, van Kaap Kruis in Namibië en toe deur Namibië, Botswana, Zimbabwe, Suid-Afrika, Mosambiek, Swaziland en tot aan die kus van KwaZulu-Natal. Die hele afstand was sowat 9 000 km,” vertel Johan.
Elke Voetspore-span het uit sowat ses lede bestaan, maar vir dié reis was die manne dubbel soveel en twaalf het dit aangepak om die reünie voltallig te maak. “Die spanne het oor die jare gewissel en daar was altesaam dertien Voetspore-lede, maar Daan Hamman is in 2007 oorlede,” verduidelik Johan.
Al was daar meer manne en voertuie – vyf 4x4’s pleks van die gewone drie – het die logistiek nie regtig meer geword nie. “Ons was wel meer mense, maar terselfdertyd meer hande wat kon raakvat. Dit was eintlik elke aand ’n gestoei oor wie gaan kos maak. Ook die kamerawerk is verdeel, wat baie gehelp het,” vertel Johan. “Wanneer ’n voertuig vasgeval het, was daar genoeg mense wat kon help. Dit was ’n wonderlike reis.”
VELE HOOGTEPUNTE
Johan sonder ’n hele paar hoogtepunte uit. “Die rivierlope van die Namib met die woestynolifante was iets besonders. Dis waar al ons Voetspore-reise begin het en waar die reeks sy naam gekry het. Dit was spesiaal om ná 17 jaar weer die woestynolifante te sien,” sê Johan.
“Nog onvergeetlike bakens op die roete is Mapungubwe in Limpopo en die eindpunt van ons reis, Cape Vidal en St. Lucia in KwaZulu-Natal. Die Matopo-heuwels en die Hwange- Nasionale Park in Zimbabwe is ook die moeite werd om te besoek.”
Anders as vorige reise waar teëspoed soos pap wiele of voertuie wat in die modder vasval hul spoed vertraag het, was daar geen probleme op die reünie-reis nie. “En daar was geen voorraad of enigiets waaroor ons spyt was omdat ons dit nie saamgeneem het nie. Ons het oor die jare geleer om met die minimum klaar te kom.”
Hierdie elfde Voetspore-reis was vir Johan persoonlik ’n besonderse belewenis. “Ek het besef die vriendskapsbande wat ons gesmee het, het oor die jare bly staan en sterker geword. Ek het nog nooit so baie gelag op een reis nie. Met soveel hulp was my verantwoordelikhede ook minder,” voeg hy by.
Sy seun, Streicher (21), wat vyf jaar gelede laas saamgereis het, kon ook die reünie meemaak. “Streicher was ’n seuntjie met sy eerste ekspedisie, en hierdie reis het baie vir ons verhouding as pa en seun beteken.”
Wanneer vat die Voetspore-manne weer die pad? “Planne vir die twaalfde Voetspore-reis is nog nie heeltemal gefinaliseer nie,” sê Johan. “Ons gaan Afrika dalk bietjie agterlaat en wil in die toekoms die Brics-lande, naamlik Brasilië, Rusland, Indië en China, besoek.”
Maak nie saak waarheen hulle gaan nie, ons kyk en beleef saam! Mag daar nóg tien jaar se ekspedisies wees!