TV Plus (Afrikaans)

Hier kom ’n nuwe magstryd

Warrick is terug in al sy glorie en wil Binneland ondermyn.

-

Binnelande­rs

Weekdae kykNET (*144) 19:30

Kyk wie is terug! Niemand anders nie as die bombasties­e en veglustige prokureur Warrick Paulse ( Terence Bridgett), een van dr. At Koster (Hans Strydom) se aartsvyand­e. En Warrick is nie in Pretoria om mooi broodjies te bak nie – hy wil Binneland inpalm. “At se vrou Jana (Brümilda van Rensburg), wat begin vanjaar in ’n kliniek opgeneem is ná ’n senu-ineenstort­ing, het Warrick volmag oor haar Binneland-aandele gegee,” sê Terence. Maar dit moet eers deur ’n hof bekragtig word . . . En so begin ’n stryd om beheer oor Binneland.

Warrick dink Steve (Clint Brink) is net die regte persoon om die leisels by At oor te neem onder Warrick se wakende oog. Intussen word die gewetenlos­e Delia Richter (Odelle de Wet) ook deel van die magstryd om At te onttroon – en Warrick trek die toutjies. Of so dink hy.

DIE SLUIER WORD GELIG

At Koster word onkant gevang wanneer Warrick hom op Woensdag 29 Augustus besoek en inlig hy is hier om na Jana en haar kinders se belange om te sien. “Eintlik doen Warrick net sy werk. Hy is ambisieus en stel altyd sy kliënt se belange eerste, maar hy is

soos ’n boerboel en veg altyd vir die underdog,” vertel Terence.

Warrick vind uit Binneland se toekoms lyk duister vanweë sy finansiële verknorsin­g nadat At 1 miljoen dollar moes opdok om die kliniek se dokters uit die kloue van die Kongolese rebelle te kry. Steve vra op Vrydag 31 Augustus ’n vergaderin­g met Warrick aan om die saak te bespreek. Clint sê Steve meen At kan nie altyd objektief wees en optree nie en dis waarom hy die vergaderin­g met Warrick versoek. “Jana se siekte maak Steve bekommerd oor At se welstand en besluitnem­ingsvermoë. Hy wil net die beste vir Binneland hê en ook sorg dat sy eie praktyk as plastiese chirurg nie in die proses skade ly nie,” vertel Clint.

Warrick, wat nie doekies omdraai nie, vra Steve of hy moontlik die leisels by At wil oorneem en dit lyk of Steve te vinde is vir die idee. “Steve sal beslis in staat wees om die hospitaal te bestuur,” vertel Clint. “Hy is ’n knap chirurg en het goeie sakevernuf.”

DESPERATE SPRONGE

Intussen begin At op Woensdag 5 September besef Warrick is nie net hier om Jana se belange te bestuur nie – hy wil dit oorneem en aktief betrokke wees. “At voel erg gekrenk omdat Jana hom nie vertrou om haar aandele oor te neem nie,” vertel Terence. At is nou nog meer vyandig teenoor Warrick. “At en Warrick het nog nooit langs dieselfde vuur gesit nie, want hulle is albei roekelose sakemanne,” voeg Terence by.

Tydens ’n vergaderin­g met die raad voel dit vir At of sy hele wêreld begin verkrummel, want dit dring tot hom deur die kanse is goed dat hy die Binneland-kliniek heeltemal kan verloor – en dat Steve sy moontlike opvolger gaan wees.

At voel Steve het hom in die rug gesteek en konfrontee­r die jonger dokter. Hy beskuldig Steve ook dat hy Jana se siekte vir eie gewin uitbuit. “Steve is gefrustree­rd met At se hooghartig­e houding. En hy voel hy moet At steeds teëgaan, want dit is in belang van die hele hospitaal en sy personeel,” sê Clint.

Die volgende dag wil At met alle mag ingryp en aanbeveel dat enige ander persoon, behalwe Warrick, Jana se aandele bestuur. Sy seun Conrad (Hykie Berg), wat hom ook kwel oor die toekoms van Binneland, gee dan vir hom ’n ander idee: verkoop Binneland – sommer aan Southern Hope, Binneland se grootste mededinger.

MOONTLIKE KOPER

Nou raak Delia Richter van Southern Hope ook by die morsige saak betrok- ke. Die feeks wou nog altyd At se val bewerkstel­lig en in hierdie omstandigh­ede is die kanse goed dat sy en Warrick goeie bondgenote kan word met dieselfde missie. Tydens ’n vergaderin­g om die onderhande­ling te bespreek gooi Delia olie op almal se vuur wanneer sy na Warrick verwys as die man wat At gaan onttroon.

Clint vertel Steve vertrou Delia nog minder as Warrick, deur wie hy intussen begin sien het. “Maar hy besef hy moet nie ’n vyand van Warrick maak nie. want as hy Warrick aan sy kant het, is hy in ’n beter posisie as hy dalk eendag die hospitaal moet bestuur.”

SLEGTE NUUS

Die hof beslis op Maandag 10 September Warrick is inderdaad nou in beheer van Jana se aandele, en Warrick kan al sukses proe, tot Steve sy opgewonden­heid demp. “Hy vertel vir Warrick die raadslede het besluit om die Binneland-kliniek nie aan Southern Hope te verkoop nie en dat daar ’n ander aanbod is wat Binneland oorweeg,” vertel Clint. “Maar hy weier om vir Warrick te sê wie dit is.”

Steve se mond is gesnoer, want hy het nou ’n plan van sy eie.

Warrick is verras deur die skielike wending. “Hy dink dis ’n baie swak besigheids­besluit om nie aan Southern Hope te verkoop nie,” vertel Terence.

Steve besef hy moet sy kaarte nou mooi speel: “Hy besluit [op Dinsdag 11 September] om alleen met Delia te praat oor die moontlike koop van Binneland.”

Gaan Steve die een wees wat Binneland kan red en dit so bewimpel dat hy aan die stuur van die kliniek is? Warrick het nog baie toutjies om te trek.

 ??  ?? Die veglustige prokureur Warrick Paulse (Terence Bridgett) is terug.
Die veglustige prokureur Warrick Paulse (Terence Bridgett) is terug.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Conrad (links), Warrick en Steve bespreek Binneland se toekoms.
Conrad (links), Warrick en Steve bespreek Binneland se toekoms.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa