TV Plus (Afrikaans)

Emosionele reis

Die komkommerk­oel Katrien se harde fasade verkrummel stukkie vir stukkie.

-

Fynskrif Seisoen 1 Dinsdae kykNET (*144) 20:00

Die prokureur Katrien Nienaber (Cintaine Schutte) se hardgebakt­e persoonlik­heid pas haar soos ’n handskoen in haar beroep in die regsdrama Fynskrif. Maar haar ysige en soms bitsige geaardheid verander weldra. Nadat haar kêrel Sam (Carel Nel) haar die trekpas gegee het omdat sy volgens hom selfsugtig is, het haar persoonlik­e lewe en fasade begin verbrokkel en sy het troos gaan soek in die arms van haar ou vriend en kollega Ben (Neels van Jaarsveld). Sake het ingewikkel­der geraak toe Ben se vrou, Tamryn (Erica Wessels), wat hom verkul het en wat hy in Kenia gelos het nadat hulle sewe jaar daar gewoon het, skielik opdaag. “Katrien gaan op ’n emosio- nele reis en die mure begin ál meer om haar val. Dis soos ’n ui waarvan die lae afgeskil word,” verduideli­k Cintaine. “En soos die lae verdwyn begin Katrien haar sagte kant wys.”

SELFKENNIS EN KOPHOU

Katrien leer baie van haarself by die mense wat haar pad kruis, sê Cintaine. “Die klerk Thandi (Crystal-Donna Roberts) sê vir Katrien om haar nonsens te laat staan en nie bang te wees nie. Dis waarom Katrien al haar moed bymekaarge­skraap en op haar knieë gegaan het om Sam die jawoord te vra. Dit het baie van haar geverg.” Ongelukkig het Sam haar steeds gelos. Katrien was eers hartseer, maar Ben en sy kinders,

Luke (Luan Jacobs) en Bella (Mia van der Merwe), het haar hart help heel – haar moederlike instinkte het toe ingeskop. “Katrien het nooit vooraf geweet sy het ’n slag met kinders nie,” vertel Cintaine.

Die aktrise moes mooi kophou met Katrien se gemoedskom­melings, sowel as met die uiteenlope­nde rolle wat sy vertolk – ons sien haar ook tans as die verspotte Michellay in die komedieree­ks Die Kasteel [Woensdae om 20:30 op kykNET].

“Vir die rol van Katrien het ek myself weke lank in my kamer toegesluit voordat ons begin skiet het en haar emosionele landskap dag vir dag vasgepen,” verduideli­k Cintaine. “Tydens die verfilming het ek elke dag my boekie stel toe geneem en die produksies­pan het soms my been getrek en die boekie weggesteek.”

Die notas het haar gehelp om presies te weet waar Katrien se emosies in ’n spesifieke toneel is omdat dit nie chronologi­es geskiet is nie. Katrien en Sam se tonele is byvoorbeel­d eerste verfilm en die kantoorton­ele eers later.

LIEFIES IN DIE REGTE LEWE

Cintaine en Carel gaan al sewe jaar uit en het besluit om albei oudisies vir Fynskrif af te lê. “Dit is altyd wonderlik om teenoor Carel te speel, want ek vertrou hom,” vertel sy. “Ons ken mekaar se werketiek en het wedersydse respek vir mekaar as akteurs. En ons het die vrymoedigh­eid om vir mekaar te sê as ons dink iets werk of nie.”

Die twee was al ’n paar keer saam op die verhoog. “Ons het juis in 2011 ontmoet toe ons man en vrou gespeel het in die verhoogpro­duksie Dream Brother, wat by die Grahamstad­se kunstefees opgevoer is.”

En hoe het Carel gevoel wanneer sy en Neels intieme tonele moes doen? “Carel was nie op stel toe dit verfilm is nie. Maar ons beskou sulke tonele as iets tegnies en iets wat deel is van ons beroep. Jy vertolk ’n karakter – en dis Katrien wat vir Ben soen, nie Cintaine vir Neels nie,” verduideli­k sy.

Wat verder met Katrien en Ben gaan gebeur en of sy en Sam dalk versoen gaan raak, wil Cintaine nie verklap nie. “Al wat ek kan sê is Katrien leer hoe om haar profession­ele en persoonlik­e lewe te skei. En wanneer sy leer om haar aan haar emosies oor te gee, maak dit ’n nuwe wêreld vir haar oop.”

 ??  ?? Cintaine Schutte as die prokureur Katrien in Fynskrif, en saam met haar kêrel, die akteur Carel Nel.
Cintaine Schutte as die prokureur Katrien in Fynskrif, en saam met haar kêrel, die akteur Carel Nel.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa