Diepste wanhoop
’n Treurende pa se doel om wraak te neem is waansinnig of geïnspireerd, na gelang van jou standpunt in Trauma.
Trauma Seisoen 1 Donderdae M-Net (*101) 22:00 (begin 13 September)
Daar is geen werklike rasionaliteit aan smart nie. Om ’n situasie te hanteer wat onmoontlik is om emosioneel te aanvaar – soos die feit dat jou 15-jarige seun op die operasietafel dood is nadat hy fisiek aangerand is – kan mense na vreemde, obsessiewe plekke stuur. In die drama-minireeks Trauma (2018) teiken die treurende pa Dan Bowker (John Simm) sy dooie seun se ongevalle- chirurg Jon Allerton (Adrian Lester) en wil bewys Jon was verantwoordelik vir Alex (Albie Marber) se dood. Met net drie episodes om al die aksie in te druk kan daar maklik gate in die storie gesteek word, maar die lewe- en- dood-stryd tussen die twee mans is eg.
SOEKE NA BEHEER
Die enigste ontsnapping wat Dan kan sien vanuit die swart gat waarin hy hom bevind weens sy seun se skielike en betekenislose dood, is die illusie van beheer en rasionaliteit wat dit hom sou gee as hy sy saak teen Jon kan bewys. “[Die woord] obsessie sou beslis my karakter Dan beskryf,” verduidelik John. “Verwoesting, die vertwyfeling waardeur jy gaan wanneer so ’n massiewe gebeurtenis jou tref en om te probeer uitvind wie jy kan verkwalik.” Hy voeg by: “Daar is ’n oomblik in die hospitaal wanneer Dan hom in die operasieteater bevind en Jon sien met sy seun se hart in sy hande. Dan dink hy hy sien ’n flikkering van paniek in Jon se oë, en daarna glo hy vas óf ’n fout is gemaak óf Jon lieg vir hom. Ek dink diep binne hom glo Dan Jon is verantwoordelik vir Alex se dood en dat hy jok – vanuit ’n bevoorregte posisie – om hom [Jon] en sy reputasie te beskerm, wat afkeurenswaardig is.”
MAAK NIE SAAK
Trauma sou nie veel van ’n minireeks wees nie as dit net handel oor die volg van ’n mal mens wat wraak probeer neem op ’n ryk dokter deur gek dinge te doen, soos om ’n werk by die hopitaal te kry sodat die pa sy teiken betekenisvol kan bestudeer. “Daar is geen goeie ou, geen slegte ou nie. Net twee mense wat vasgevang is in ’n traumatiese situasie,” sê Adrian, wat daarop wys Dan se gevoel van hulpeloosheid was daar selfs voor Alex se dood.
“Hoe Dan die trauma ervaar en dit nie wil laat los nie, sy reaksie op die dood van sy seun, bewys aan hom hoe min hy en Alex vir die gemeenskap saak maak – hoe hulle nie die mag het om enigiets betekenisvols te doen of hulself te beskerm nie. Baie mense in Brittanje en die wêreld voel vandag so – dat hulle mag verloor het of verloor, en hulle probeer dit behou. Dis die gevoel dat ander mense met geld of van ’n ander klas, meer beheer oor jou lewe het as jy self, en dat jou stem nie gehoor word nie. Die spelers het dit baie bespreek – hoekom Dan dinge so ver neem en wat hom dryf,” sê Adrian.
“Die perspektief van die reeks verskuif tussen die twee karakters. Ons is die een oomblik by Dan; dan is ons by Jon,” verduidelik die reeksskepper Mark Bartlett (hy het ook die dramareeks Doctor Foster, 2015-2017, geskryf). Wie jy glo, kan jou iets van jouself leer. “Dit sal afhang van wie jy is, hoe jy dit lees, waarmee jy jou kan vereenselwig en wie jy glo. Ek dink sommige mense kan heeltyd aan die kant van een karakter wees, en ander kan verander,” voeg Mark by.