ANDER PROMINENTE KARAKTERS
De Wet (Eric Bouwer) is ’n speurder van Johannesburg wat die saak ondersoek. Hy maak staat op logika en rede en dra ’n sielkundige wond uit sy verlede.
Sonja Landman (Kim Syster) is ’n passievolle insetsel-redakteur by ’n joernaalprogram, maar droom om ’n ondersoekende joernalis te word. “Wanneer sy ’n insetsel oor die fakkelfees in Digtersdal kom maak, hoor sy nog ’n kind het verdwyn en raak betrokke by die saak en begin self speurder speel,” vertel Kim.
Gert Neethling (Lieb Bester) is ’n oud-polisieman en kyk te diep in die bottel ná sy seun, wat ook ’n slagoffer van Siembamba was, se dood. “Hy dra al jare ’n donker geheim saam met hom rond,” vertel Lieb.
Magda Neethling (Elsabé Daneel) is haar man, Gert, se groot steunpilaar en ’n toegewyde en lojale ma en vrou, vertel Elsabé. “Sy sorg altyd dat die kroon op haar man se hoof bly en is die toonbeeld van onvoorwaardelike liefde.”
Piet Pille Taljaart (André Odendaal) is ’n maplotter en dwelmhandelaar en het een dogter, Esti
Taljaart (11, Ineke van der Merwe), wat saam met Keagan en Jan- Gustav ’n reddingspoging vir een van die vermiste slagoffers loods.
Basjan (Ruan Wessels) is een van die dapper kinders wat sy bes doen om ’n ontvoerde kind te red.
Mnr. Immelman (Hannes van Wyk) is die waarnemende skoolhoof. Hy is toegewyd en lief vir kinders.
Marie Fick (Lizz Meiring) bestuur die plaaslike koerant en is ’n oujongnooi. Sy was verlief op die voormalige redakteur van die koerant wat intussen oorlede is.