TV Plus (Afrikaans)

Intense dramas

Oorlog in die Kongo en biologiese terrorisme.

-

Spanning, drama, afpersing en verrassend­e wendings – die hospitaals­epie het die afgelope jaar daarin geslaag om ons bankvas voor die televisie te hou. Kyk saam met ons terug na Binnelande­rs se onvergeetl­ikste oomblikke in 2018. Ons kyk ook na nuwe wendings wat ons graag in 2019 wil sien.

CHAOS IN DIE KONGO

Die sepie het in Mei sy 3 000ste episode gevier met ’n groot storielyn wat in Junie begin het. Drs. Steve Abrahams (Clint Brink) en Elana Meyer (Ilne Nienaber) het by ’n primitiewe veldhospit­aal in die Kongo beland waar hulle nie net om hul pasiënte se lewe moes veg nie, maar ook hul eie lewe op die spel geplaas het.

Steve en Elana het kort ná hul aankoms in die Kongo besef alles is nie pluis nie, omdat medisyne kort-kort uit die hospitaal verdwyn het. Hul kollega dr. Jax Davids (Kim Syster), wat aan die stuur was by die veldhospit­aal, het medisyne vir die rebellelei­er Odyn (Nyaniso Dzedse) gevat waar die rebelle dr. Deon Visser (Pietie Beyers) gyselaar gehou het.

Die rebelle het ’n ooreenkoms met Deon gehad: Hy moes mediese dienste aan hul soldate verskaf, anders sou hulle hom doodmaak. In Augustus het ’ n totale chaos uitgebreek toe die veld- hospitaal tydens ’n lugaanval gebombarde­er is – Elana is ernstig beseer en was bewusteloo­s. Ná vele ontberings waar Elana en Steve ook deur die terroriste gevange geneem is, het dr. At Koster (Hans Strydom) ingegryp en $1 miljoen as losprys vir die dokters betaal. Maar dit was nog nie die einde van al die drama nie.

DODELIKE CHEMIESE OORLOG

’n Chemiese oorlog teen dr. At Koster waarin van die personeel sowel as At se kleindogte­r Nina (Le-Anche van den Berg) met ’n dodelike patogene organisme besmet is, het in Oktober vir naelbyt-oomblikke gesorg.

Die huursoldat­e Jonas (Jacques Gombault) en sy broer Esra (Francois Jacobs) het At afgepers met inligting oor die losprysgel­d wat hy onwettig uit die land geneem het. Hul doelwit was om by dr. Letitia Snyman (Rika Sennett) uit te kom, want sy kon vir hulle ’n gevaarlike patogene organisme vir oorlogvoer­ing asook ’n teenmiddel vervaardig. At was die een wat hulle na haar kon lei. Hul strategie was fyn uitgewerk: hulle het eers pasiënte in die Binneland-kliniek met ’n patogene organisme besmet om druk op At te plaas. Kort daarna het hulle mense na aan At, soos sy kleinkind, besmet. Die hele drama het tot ’n skietery gelei toe dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo) sy dogter Nina, wat toe al dodelik siek was, na Letitia se plaas geneem het.

AFSKEID EN NUWE ROMANSE

’n Hele paar geliefde karakters het finaal gegroet. Jana (Brümilda van Rensburg) het op Maandag 21 Mei Binneland verlaat nadat Eben (Zak Hendrikz) per ongeluk haar man, At, geskiet het en sy ’n senu-ineenstort­ing gekry het. Bronwyn (Kim Cloete) het op Donderdag 24 Mei gegroet nadat sy uitgevind het haar wederhelf, Steve (Clint Brink), het haar die soveelste keer met Annelize (Cindy Swanepoel) verkul. Pippa (Nadia Valvekens) het op Donderdag 23 Augustus afskeid geneem nadat sy met die polisieman Ferdie Liebenberg (Dirk Stoltz) getrou het en uitgevind het sy is swanger.

Louis (Germandt Geldenhuys) en Naomi (Je-Ani Swiegelaar) het uiteindeli­k in Oktober amptelik ’n paartjie geword en nog ’n verrassing was toe Steve en Elana ook hul liefde in November aan mekaar verklaar het.

WENSLYSIE VIR 2019

Ons hou duimvas dat daar weer ’n troue in Binneland kom. Heel bo-aan die lysie is Naomi en Louis, en wie weet, dalk besluit Steve en Elana ook om ewige trou aan mekaar te sweer. Hopelik sal die alleenlope­rs Conrad, Tertius en die voorbarige Quinton die meisies van hul drome ontmoet.

En ai, kan die knorrige At nie dalk meer gemoedelik raak nie?

 ??  ?? Steve is in die Kongo geskiet.
Steve is in die Kongo geskiet.
 ??  ?? Elana was hulpeloos ná ’n bomaanval.
Elana was hulpeloos ná ’n bomaanval.
 ??  ?? Letitia se lewe was op die spel.
Letitia se lewe was op die spel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa