TV Plus (Afrikaans)

’n Passie vir musiek

Sangeres Riana Nel neem haar plek op die rooi stoel in as een van die nuwe afrigters in The Voice SA seisoen 3.

-

“Ek wou nog altyd in daardie rooi stoel sit in The Voice SA [2016nou],” bieg die bekende Afrikaanse sangeres Riana Nel, een van die nuwe afrigters in die musiek-realiteitr­eeks. “’n Mens sit en kyk na die reeks en dink aan alles wat jy sou sê en die raad wat jy sou gee. Ek dink almal in Suid-Afrika sou spring vir daardie geleenthei­d.” En toe M-Net die sangeres van die liedjie Timbuktu (2011) nader vir die rol as afrigter in die seisoen van 22 episodes, “het ek saggies in my binneste gegil van opgewonden­heid”.

Wat bring jy na die reeks?

Ek deel graag my ervarings en dinge wat ek geleer het uit al die foute wat ek gemaak het. Ek is ’n liedjieskr­ywer en hou daarvan om ander te leer hoe om te skryf. My een begeerte is dat elke deelnemer se talent sy potensiaal bereik.

Wat het deur jou gedagtes gegaan net voor die deelnemers begin sing het?

Ek het self nogal bangerig en op my senuwees gevoel, nes die deelnemers op die verhoog. Jy is bewus van jou verantwoor­delikheid en dat jy iemand se droom in jou hande hou. Ek was so bang ek hoor nie reg nie en maak ’n fout. Glo my, ek het baie gebid voor elke blinde oudisie, en daar was 96 van hulle!

Waarna het jy gesoek in ’n deelnemer?

Iemand wat uitstaan en kenmerkend klink. Iemand wat oorspronkl­ik is in hul weergawe van die liedjie en iemand wat my eenvoudig hoendervle­is gee. En daar was ’n hele paar van hulle.

Hoe het jy suksesvoll­e deelnemers oorreed om jou as afrigter te kies?

Dis my hartswens om juwele in ander te ontgin. Ek sal graag wil hê hulle moet glo ek kan hulle help. ’n Paar keer was dit nodig om hulle eers te wys wie ek is en wat ek doen, want van die deelnemers het my glad nie geken of my musiek gehoor nie. Ek dink ek het harder baklei vir die deelnemers wat ek gedink het ek kan regtig help.

Hoe het dit gevoel om soms nie jou stoel om te draai vir iemand nie?

Dit is verstommen­d hoe ’n mens eintlik met jou oë luister. Ek het ’n paar keer nie omgedraai nie en dit het elke keer my hart gebreek, want eintlik het niemand sleg gesing nie. Ander kere het ek omgedraai en was verras, want dit wat jy sien was glad nie wat jy gedink het jy hoor nie.

Speel die gehoor ’n groot rol om afrigters te oorreed om die knoppie te druk?

Dit is nogal intimidere­nd, maar dit help om te sien mense vind aanklank by die sanger.

Hoe antwoord jy kritici wat sê musiekreal­iteitsprog­ramme is ’n kunsmatige platform vir kitsroem, terwyl gevestigde sangers hul tande lank moes slyp vir sukses?

Ja en nee. Dit gaan uiteindeli­k oor die bemarking van jou musiek. My persoonlik­e mening is oornagsuks­es word ook oornag vergeet. Maar as jy dapper genoeg is en jou hart, siel en stories deel, bereik jy mense se hart en siel en hulle maak jou dan deel van hul lewenstori­es.

Wat het jy die meeste geniet van die blinde oudisies?

Vir my was dit mooi om Farra (haar troetelnaa­m vir rocker Francois Van Coke) die rebel te sien huil wanneer iemand mooi gesing het, en Lira wat stoute goed gesê het. Ek het ook self ’n liedjie opgemaak en vir die gehoor gesing. • Lees meer or The Voice US op bl. 47.

 ??  ?? Die sangeres Riana Nel gee wyse raad op The Voice SA.
Die sangeres Riana Nel gee wyse raad op The Voice SA.
 ??  ?? Riana en haar mede-afrigters.
Riana en haar mede-afrigters.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa