Lag vir ’n slag
Just For Laughs: Gags gaan alles oor poetse, grappe, ’n gelag en versteekte kameras. Maar hoe doen hulle dit?
Met meer as 2 500 episodes, is die Kanadese TV-reeks Just For Laughs: Gags (2000-nou) die wêreld se grootste poetsbakprogram met versteekte kameras – sonder enige dialoog. “Ons het ’n reeks gesoek wat ’n jaar sou hou. Ons het die idee gehad om op emosies en reaksies te fokus, maar in ’n nieverbale formaat,” verduidelik die skepper Pierre Girard. “Die optrede is universeel en byna alle kykers kan hulle daarmee vereenselwig, veral omdat daar geen taalhindernis is nie.”
KOM NEER OP DETAILS
Dis een ding om ’n idee vir ’n grap te kry, maar dis ’n ander storie om dit te laat werk, verduidelik die medeskepper Jacques Chevalier. Die span werk al van die eerste dag saam, met ’n handjievol mense wat aansluit of weggaan. “Die kerngroep is sedert die begin hier. Dis moeilik, want ons het die punt bereik waar ons nie met nuwe mense kan begin nie. Hulle sal ons manier van dink en die formule nie gou gewoond raak nie.”
Die groep kom van Desember tot Maart byeen om die nuwe seisoen te ontwikkel, met tot 200 idees wat elke dag uitgedink word. “Dan verminder ons dit elke dag tot tien wat ons dink die beste sal werk,” voeg Jacques by. Maar voor ’n poets vir gebruik goedgekeur word, maak hulle seker elke veiligheid s voorsorgmaatreël is getref en dat die poets wettig is. “Dis ononderhandelbaar. En dit moenie te veel aanstoot gee nie, maar iets wees wat byna almal snaaks sal vind. Ons het nog nooit ’n ernstige ongeluk gehad nie, en ons het ’n medikus. Ons vertel vir die omstanders wat ons beplan sodat hulle nie skrik wanneer hulle sien hoe dit gedoen word nie,” voeg Jacques by.
HOE DOEN HULLE DIT?
Episodes word in Quebec geskiet, soos by restaurante, winkels, kruisings en parke. Permitaansoeke word minstens ’n maand voor verfilming ingedien sodat die stadsraad dit kan goedkeur. Die reeks is nog nooit afgekeur nie, want soos Jacques vertel: “Ons verduidelik elke stukkie inligting, van die soort kameras wat ons gebruik tot die klere wat ons span gaan dra.” Rekwisiete word deur die ontwerpspan gemaak en hulle hou dit eenvoudig. “Alles kan by ’n plaaslike ysterware- of klerewinkel gekoop word. By ’n grootwinkel kry jy alles, wat dit goedkoop en maklik maak om iets te skep wat jy nodig het.”
Rekwisiete word ook getoets om te verseker dis veilig en werk reg. Die opstel van die poetse begin voor die parke en winkels amptelik oopmaak sodat dit nie gesien word nie. Die akteurs en die span wag vir hul niksvermoedende slagoffers, wat hulle ook versigtig identifiseer. “Ons maak seker ons kies nie iemand wat senuagtig lyk of wat ons kan sien sal onaangenaam verras word nie,” sê Jacques. “Ons wil mense laat lag, nie ontstel nie.”
Deelnemers onderteken kwytskeldingsvorms wanneer hulle vertel is waaroor dit gaan sodat die reeks die beeldmateriaal kan gebruik. “Byna g’n mense het tot dusver geweier nie,” sê Pierre. “Ons het een of twee mense wat ons jare daarna kontak en vra dat ons nie hul poets uitsaai nie. Ons sit daardie band in die argief en dit word uit huidige sindikasiebande geredigeer.”
ONS HET JOU GESIEN
Die reeks is in 2016 gedagvaar vir seksuele teistering ná ’n lid van die publiek op sosiale media beweer het sy was mislei om ’n kwytskeidingsvorm te onderteken en dat die reeks se karakter telkens sy arm om haar gesit het. Gilbert Rozon, een van die reeks se uitvoerende vervaardigers, het ’n ongeredigeerde kopie van die video aan die hof verskaf, wat die saak uitgegooi het. “As sy gesê het sy voel sleg sou ons dit respekteer,” verduidelik Gilbert. “Maar soos die hof gesien het, is geen dokument geteken nie, ons akteur het nooit sy arm om haar gesit nie.” Tog is die episode in die reeks nie uitgesaai nie.