Vindingryke Murdoch
Murdoch Mysteries is terug om ’n vernuftige kinkel aan die geskiedenis te gee . . . en moordsake op te los.
Murdoch Mysteries Seisoen 12 Dinsdae ITV Choice (*123) 20:00 (begin 5 Maart)
Seisoen 11 van die Kanadese historiese polisiedrama Murdoch Mysteries (2008-nou) het geëindig met die vindingryke speurder William Murdoch (Yannick Bisson) en sy lykskouervrou Julia (Hélène Joy) se tranedal-reünie ná ’n hele episode weg van mekaar weens haar miskraam. Wanneer die reeks terugkeer is daar ’n tydsprong onthul die uitvoerende vervaardiger Peter Mitchell. “Ons gaan drie maande later voort sodat ons vars kan begin terwyl ons nabetragting hou oor wat verlede jaar gebeur het. Ons het ’n idee Julia en Murdoch kan saam ’n boek skryf (episode 11), daar kan interessante verwikkelings wees in die Brackenreid-huishouding (episode 9), en huweliksklokke gaan inderdaad lui vir Henry Higgins (Lachlan Murdoch) (episode 3). Ons kan die argitek Frank
Lloyd Wright (Aaron Poole) (episode 1) inbring, ’n paar historiese figure wat ons nog nie gesien het nie en ’n paar wat ons gesien het.”
DIE MURDOCH VAN UITVINDING
Murdoch Mysteries is ’n kombinasie van misterie en Victoriaanse geskiedenis. “Hulle het dinge nagevors wat in die tyd in Toronto en oral in die wêreld gebeur het,” sê Hélène – en dis steeds die onbeskaamdste steampunk-geïnspireerde TV-reeks. Die uitvindings is alles. Ons sal seisoen 8 se taser-soort skokstok die Weaponised Capacitor nooit vergeet nie. In episode 1 die seisoen het Murdoch (wat altyd sy tyd vooruit is) ’n kasgrootte mikrogolfoond ontwikkel wat tot ’n taaierige einde kom. Dis ’n prettige teruggryp na ’n vroeëre oomblik in seisoen 3 se slotepisode (2010) toe konstabel Crabtree ’n hele vertrek vol mikrogolfbestraling voorgestel het om konfyt te kook.
Buiten om die pionierargitek Frank Lloyd Wright aan te stel om sy huis te bou gaan Murdoch ook magte saamspan met die (ware) gek geniale uitvinder Nikola Tesla (Dmitry Chepovetsky) in episode 13 wanneer ’n man vermoor word wat met onsigbaarheid eksperimenteer. Dit lei daartoe dat Murdoch en Tesla saam televisie uitvind. Maar tot hulle hul TV op die mark kry sal fans tevrede moet wees met Murdoch en Julia se boek. Wanneer dit in episode 16 gepubliseer word, begin ’n geesdriftige fan die moordtonele herskep as ’n na-apermoordenaar.