Klein dosisse
Ons het ’n diagnose en ’n tweede mening vir die mediese dramareeks New Amsterdam.
New Amsterdam Seisoen 1 Maandae M-Net (*101) 20:00 (begin 11 Maart)
Die mediese dramareeks New Amsterdam (2018-nou) is geïnspireer deur dr. Eric Manheimer se 2012-boek Twelve Patients: Life And Death At Bellevue Hospital. Dis die verhaal van sy poging om albei prosedures en pasiëntebehandeling in die oudste hospitaal in die VSA, Bellevue Hospital Center (gestig in 1736 in New York), te verbeter. In die reeks verteenwoordig die karakter dr. Max Goodwin (Ryan Eggold, Tom Keen in The Blacklist, 2013-nou) dr. Eric Manheimer. “Eric is uiters waardevol vir ons,” sê Ryan. “Hy is ’n vervaardiger en gereeld op stel. Hy gee die skrywers idees oor wat hy beleef het, gedagtes, al die dinge wat kom van sy ervarings met verskillende pasiënte van oor die wêreld. Hy spreek hom duidelik uit oor gesondheidsorg in die VSA.” Ons kan almal die idee toejuig van ’n direkteur van ’n mediese sentrum wat versorging eerste plaas en wat die burokratiese rompslomp en versekeringswoekerwinste probeer beperk wat mediese koste die hoogte laat inskiet en dokters en pasiënte frustreer.
Maar al is New Amsterdam in die werklikheid gesetel, het dit dalk effens van sy fondasies geskuif. Dr. Brit Trogen (’n resident- pediatriese dokter by die Bellevue Hospital en NY University Langone) waarsku “die fout van die reeks is om te aanvaar ander geneeshere gee nie om [oor hul pasiënte] nie. Skewe mediese dramas soos New Amsterdam kan die publiek se siening van die gesondheidsorgstelsel en dokters benadeel. Toe ek met pasiënte gewerk het, het ek van die eindresultaat van die wantroue waargeneem. Daar was dikwels ’n onwilligheid om bewysgebaseerde behandelings soos inentings en antibiotika te aanvaar en wat medisyne en prosedures benodig het.”
MET ’N KNIPPIE SOUT
Dr. Trogen voeg by die “oplossings” wat die reeks voorstel is “net so ontstellend. Maar Goodwin bied ’n seldsame glimps van sy volstruisagtige ingesteldheid, en verklaar: ‘Die fiskale ding is nie regtig my sterk punt nie. Ek verkies om oor my pasiënte te praat.’ Die absurditeit van die uitlating, komende van die direkteur van ’n hospitaal, bevestig Goodwin leef in ’n wêreld sonder gevolge of reperkussies.”
Miskien moet jy die mediese drama in klein dosisse neem, en met net die kleinste knippie sout.