TV Plus (Afrikaans)

Op ’n hoë noot

Emo Adams en DJ Shelly is terug vir hul tweede seisoen van Noot Vir Noot.

-

Noot Vir Noot Seisoen 45 Donderdae SABC2 (*192) 19:00 (begin 28 Mei)

Dit is die tweede keer dat die aanbieder Emo Adams en die platejoggi­e DJ Shelly in beheer van die note is wanneer die 45ste seisoen van die ikoniese musiekspel­etjiereeks Noot Vir Noot (1991-nou) op SABC2 begin. “Hierdie keer is dinge baie gemakliker vir my en Shelly, en ons is ook meer gevestig in ons rolle. Alles is meer ‘gefinetune’,” sê Emo.

“In die vorige seisoen moes ek my plek vind toe ek moes oorneem by die legendarie­se Johan Stemmet, wat die reeks vir 29 jaar aangebied het. Daar was ook die uitdaging om die balans te vind tussen wat ek as Emo in die program wou doen en mense se verwagting­e van my.”

Noudat dit agter die rug is, is Emo opgewonde om aan kykers te wys wat in hierdie seisoen op hulle wag.

WEG IS DIE SPANNING

“Ek voel nou nie meer soos die groentjie nie,” sê DJ Shelly, oftewel Rochelle de Bruyn, oor haar betrokkenh­eid by Noot Vir Noot. “Ek is nou in my gemaksone op die stel en nie meer die stokstywe platejoggi­e wat haar plek voor die kameras moes vind nie.”

Die senuwees en spanning is vergete, en kykers sal ’n borrelende DJ Shelly in seisoen 45 sien, wat meer vryelik saam met Emo op die verhoog beweeg – en sommer ’n danspassie of twee maak wanneer die musiek haar voete kielie.

Rochelle sê dis te danke aan Johan se raad en mentorskap dat sy groter vrymoedigh­eid en meer vertroue in haarself, asook haar talent as platejoggi­e het.

“Ek het ’n klein hartjie en aanvanklik was dit vir my as TV-nuweling moeilik om die kollig wat vanweë die werk op my val, te hanteer. Maar met Johan, asook Emo, se ondersteun­ing, het dinge beter geraak.”

MEDEDINGEN­DE DEELNEMERS

Hierdie seisoen se deelnemers gaan kykers op die punt van hul stoel hou, meen Emo. “Almal se musiekkenn­is is van topgehalte, maar die drama en opwinding kom by wie vinnig genoeg die knoppie kan druk en die regte antwoord gee tydens die musiekspel­etjies.”

Die mededingin­g tussen die deelnemers is straf en volgens Rochelle gaan die algehele wenner van die reeks amper deur een van sy teëstander­s op die laaste nippertjie onttroon word. “Meer kan ek nie daaroor verklap nie, behalwe om te sê dis baie naby,” sê Rochelle.

MUSIEK EN VERMAAK

’n Rits bekende kunstenaar­s gaan in die 14 episodes van die nuwe seisoen op die Noot Vir Noot-verhoog gesien word, insluitend Elvis Blue (episode 1, 28 Mei), Karin Zoid (episode 11, 6 Augustus) en Early B (episode 12, 13 Augustus).

Emo wil nie veel oor hul vertonings weggee nie, maar sê: “Kykers gaan nie die kletsrymer Early B (bekend vir sy lied Ben 10 in 2018), wat saam met ’n orkes optree, wil misloop nie.”

Earl Swartz, die man agter Early B, sê dis vir hom ’n groot eer om deel van die reeks te wees. “Die show is nie net ikonies in ons land nie, maar ook in my huis, want my ma is ’n groot fan en ek onthou hoe ons elke Sondag die repeat saam gekyk het.

“Dit was wonderlik om Johan te ontmoet en met hom te gesels. Hy het my padkos vir my loopbaan vorentoe gegee en ek kon nie vir meer gevra het nie.”

Deelnemers en spanlede sien Johan natuurlik nog met opnames omdat Johan die regisseur is, en dus agter die skerms betrokke is.

Karen Zoid, die sangeres van Afrikaners Is Plesierig (2009), sê Emo en Johan is twee van haar gunsteling­mense.

“Hulle is die perfekte kombinasie vir die Noot Vir Noot-reeks met Emo wat nou die reeks aanbied en Johan in die regiestoel. Noot Vir Noot is besonders, want hulle gee soveel kunstenaar­s, bekend en onbekend, die geleenthei­d om in die reeks op te tree. Ek vind dit inspireren­d.”

 ??  ?? DJ Shelly (links) en Emo Adams het groot pret op die Noot Vir Noot-stel.
DJ Shelly (links) en Emo Adams het groot pret op die Noot Vir Noot-stel.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa