Vir die nostalgie
Die skepper en verteller van The Riviera, Quanita Adams, vertel hoe persoonlik die reeks is.
The Riviera
Seisoen 1 Woensdae SABC2 (*192) 19:30
Elke Woensdagaand word die aktrise, skrywer en komediant Quanita Adams, skepper en verteller van die reeks The Riviera (2020), se foon met boodskappe oorlaai.
“My familie is dol daaroor. Daar is WhatsApps, stemboodskappe, en kort video’s van histeriese mense,” sê sy. “Daar is ’n paar baie spesifieke verwysings waarvan my familie baie hou wanneer hulle dit in episodes sien afspeel. Hulle herken dinge wat my ouers vir mekaar sou sê, of verwysings na bepaalde mense. Ek het onlangs ’n boodskap gekry van die suster van ’n klasmaat op skool. Sy is nou in Brittanje en sy het die naam herken van die vrou wat kinders in ons omgewing na die skool vervoer het, ’n halfuur se ry verder! Dit het my stomgeslaan, ’n halwe wêreld ver.”
MOEILIKE JARE
Met die skryf van The Riviera is Quanita geïnspireer deur komedies soos The Wonder Years (1988-1993) met Fred Savage, wat toegespits was op ’n jong seun se grootwordjare in die laat 1960’s tydens die Viëtnam-oorlog. En ook Everybody Hates Chris (2005-2009), wat die komediant Chris Rock se weergawe was van grootword in New York in die 1980’s tydens Amerika se oorlog teen dwelms. Albei reekse het ouer vertellers wat konteks gee aan politieke gebeure en volwasse oomblikke verduidelik wat in hul jeug bo hul vuurmaakplek kon wees.
Dus, benewens ’n grootwordstorie gegrond op Quanita se eie ervarings as ’n 12- of 13-jarige meisie in ’n veelrassige gesin van gemengde geloof wat in die 1980’s op die Kaapse Vlakte grootword, is The Riviera ook die verhaal van SuidAfrika se volwassewording tydens die moeilike apartheidsjare. En ’n episode wat in hierdie twee weke uitgesaai word, sal onthul wat dit op ’n pynlik persoonlike vlak kan beteken.
GESINSKWESSIES
In episode 7 (20 Mei) verwelkom Riana (Kelly Damon se karakter wat op Quanita gegrond is) haar neef wat kom kuier – die wit Afrikaanssprekende Romeo (Adrian Hage) – wat tot ’n lelike konfrontasie op Muizenberg se strand lei.
“Teen hierdie tyd sal die reeks se kykers al weet die ouma wat my hele lewe lank by ons gewoon het, was wit. Wel, ek het van haar witheid uitgevind op ’n manier wat my aangevuur het om reeds as kind oor die politiek te dink,” vertel Quanita oor die tydstip toe sy besef het haar ouma se velkleur verskil van hare en watter impak dit op die familie gehad het.
“Met ’n wit ouma beteken dit my ander familielede (niggies, neefs, tannies en ooms), wat een keer per jaar by ons kom kuier het, was ook wit mense. En dit het my stomgeslaan! Ek besef nou die vreemde spanning wat geheers het wanneer familielede kom kuier, was emosiebelaaide en potensieel gevaarlike situasies.”
The Riviera se strandstorie is dus op ’n ware voorval gegrond. “Vriende het ons vertel as jy op ’n sekere tyd, op ’n sekere dag na Muizenberg gaan, kry jy toegang tot die strand, en veral die mini-gholfbaan en waterglybane,” verduidelik Quanita, want toe was nieblankes nog nie daar toegelaat nie.
“My ouers het ons in die motor gelaai – ek met my swembroek en klein rubberband en my broer met sy watervlerke. Ons was slaggereed vir die uitstappie na die see. Ons het by die strand aangekom, my pa het uitgeklim en ons goed uit die kattebak gehaal,