Jy ’tgeen idee nie!
By tvplus kyk ons ongelooflik baie televisie. En al hou ons dalk nie van alles nie, doen ons ons bes om elke program ’n regverdige kans te gee. Maar dis nie als werk nie. Ons raak diep verknog aan reekse.
Stroomdienste laat ons toe om na hartelus te kettingkyk, en ons gunsteling-programme in te pas by al die regstreekse TV-kykery wat ons professioneel doen. Ons kan agteroor sit met ’n lekker opfrissertjie nadat ons intense dramas en rillers oor donker temas gekyk het. En soms kan ons afskakel en net ’n oomblik geniet wanneer ons kniediep in seisoen 4 van ’n reeks vol kinkels is met 40 verskillende sleutelkarakters.
Hier is waarna tvplus kyk vir pret (benewens al die wonderlike Afrikaanse inhoud op kykNET en VIA) . . .
Naam: Genevieve Terblanche
Pos: Senior skrywer en vermaaksentrum vir katte.
Ek kyk nou: Watchmen (2019), seisoen 1, op Showmax.
My mening oor die reeks: Watchmen gebruik ’n tydsprongverhaal oor superhelde om gestruktureerde rasisme en polisiegeweld in Amerika, die misbruik van mag, die marginalisasie van swart stemme en vigilante te verken. Daar is ook talle surrealistiese vertellings, spannende spesiale effekte en prikkelende karakters wat onderlangs soos ’n geestelike bom broei. My gunsteling-oomblik: Die herskepping van die ware Tulsarasoproer in 1921 in die eerste episode was net so pynlik om te kyk soos die nuus in Junie.
Van daar af het die program my vermaak met wonderlik bisarre oomblikke, soos die afgetrede vigilant Ozymandias wat lewende babas snags soos visse gaan vang in episode 4.
Hoekom kyk ek dit nou? Omtrent elke akteur met wie ek oor drie maande verlede jaar gepraat het, was in die wolke hieroor.
Die Black Lives Matter-oproer in Junie 2020 in Amerika het my aangespoor om dit nou te kyk.
Bekende akteurs: Regina King, die treurende ma Latrice Butler in die minireeks Seven Seconds (2018), is die polisievrou Angela Abar/heldin Sister Night. En Jeremy Irons, Pope Rodrigo in die periodedrama The Borgias (20112013), is die superryk genie Adrian Veidt/Ozymandias.
Naam: Lucia Poolman Pos: Redaktrise wat koekies onder my bed wegsteek sodat ek dit alleen kan eet.
Ek kyk nou: Space Force (2020), seisoen 1, op Netflix.
My mening oor die reeks: Ek het ’n slapstick- komedie verwag, en hoewel daar beslis ’n paar skaterlag-oomblikke was, het dit ’n ernstige ondertoon. Die talentvolle Steve Carell speel die byna onkundige genl. Mark Naird, die pas aangestelde hoof van ruimtesendings van die nuutgestigte Space Force – ’n taakspan met een doel: Om teen 2024 die eerstes te wees om voet op die maan te sit. Hoewel Mark niks van die ruimte af weet nie, is hy ’n innemende held. Dit grens aan ’n satire met sosiale kommentaar terwyl hulle ’n langtermynprojek versnel om onmiddellik vir lansering gereed te wees.
My gunsteling-oomblik: Google die Kokomo-toneel in episode 1 waartydens Mark ’n blaaskans neem om homself reg te ruk en dan met ’n dans lostrek. Ek wed jou jy sal nie jou lag kan hou nie!
Hoekom kyk ek dit nou? Ek kon nie wag dat die program begin nie en het dit gekettingkyk die oomblik dat ek ’n kans gekry het (dit het op Vrydag 29 Mei begin).
Bekende akteurs: Die bekendste is Steve, bekend as Michael Scott in The Office US (2005-2013). John Malkovich is perfek as dr. Mallory (sir John Brannox in The New Pope, 2019-2020). En dis ’n fees om Lisa Kudrow (Phoebe in Friends, 1994-2004) as Mark se vrou, Maggie, te sien.
Naam: Elri Boucher Pos: Afrikaanse joernalis wat ’n belangstelling in die Harry Potter-boeke ontwikkel het en dit nou weer lees.
Ek kyk nou: Dirty Money (2018nou), seisoen 1 en 2, op Netflix.
My mening oor die reeks: Ek hou nogal van dokkies. Hulle werp lig op onderwerpe waarvan ek nie geweet het nie en gee my die wysheid vir besluite in die toekoms, soos of ek ’n rekening wil open by die HSBC-bank (’n geldwassery-instelling vir dwelmkartels, kyk seisoen 1, episode 4), selfs wanneer hulle die Sewesrugbytoernooi borg . . . Dirty Money ontbloot die gulsigste geldmaakmisdade in Amerika, insluitende die prysverhoging in farmaseutiese produkte, korporatiewe korrupsie en “kreatiewe” boekhouding.
My gunsteling-oomblik: Die korttermyn-woekeraar en renjaer Scott Tucker se opgang tot glorie en sy val word in seisoen 1, episode, 2 gewys. Ek hou daarvan dat Scott sy kant van die verhaal vertel. Gewoonlik wil die skuldige nie sy misdade op kamera erken of verdedig nie. Scott vertel ’n emosionele verhaal en ’n mens kan nie help om empatie te hê wanneer sy lewe inplof nie.
Hoekom kyk ek dit nou? Ek het pas die dokkie Jeffery Epstein: Filthy Rich (2020-nou) op Netflix klaar gekyk en het lus gehad vir nog ’n dokkie. Bekende akteurs: Die meeste akteurs is onbekend, buiten pres. Donald Trump (seisoen 1, episode 6). Wees op die uitkyk vir handelsmerke soos Volkswagen.
Naam: Ipeleng Rakgantsho Pos: ’n Skrywer wat terugdink aan haar yskoffie-afsprake met haarself by daardie restaurant waar die muffins so groot is soos ’n volwasse man se kop.
Ek kyk nou: Cherish The Day, seisoen 1, Dinsdae om 20:00 op 1Magic (*103) .
My mening oor die reeks: Twee vroue wat ek sal kloon, is my ongelooflike “ma” Beyoncé (om vanselfsprekende redes) en Ava DuVernay, wat dié romantiese dramareeks geskep het. Dis ’n versameling vertellings oor verskillende paartjies in elke seisoen. In seisoen 1 is Gently (Xosha Roquemore) en Evan (Alano Miller), ’n paartjie uit verskillende wêrelde wat deur hul onmiskenbare vonk bymekaar gebring word. Albei is heethoofde, wat probleme voorspel, en ek kan nie wag om te sien hoe dit verloop nie.
My gunsteling-oomblik: Ek geniet die reguit vertelling. Dit beteken nie daar is ’n tekort aan spanning of dis voorspelbaar nie. Dis boeiend en aangrypend.
Hoekom kyk ek dit nou? Ek wag daarvoor sedert dit in Februarie in Amerika uitgesaai is om plaaslik vertoon te word. Dit was die moeite werd. Bekende akteurs: Xosha was Tamara in die komedie The Mindy Project (2012-2017), en Alano Cato in die drama Underground (2016-2017). Daar is ook Cicely Tyson (Ophelia in How To Get Away With Murder, 2014-2020) as Luma, en Michael Beach (Darius in Chicago P.D., 2014-nou) as Gently se aanneempa.
Naam: Emile Butler-O’Brien Pos: ’n Skrywer wat hou van bonatuurlike skepsels.
Ek kyk nou: Teen Wolf (20112017), die volledige reeks, seisoen 1-6, op Netflix.
My mening oor die reeks: Die reeks is losweg gegrond op Michael J. Fox se fliekkomedie Teen Wolf (1985), maar dis donkerder en het meer kinkels met tienerdrama en ander bonatuurlike skepsels. Die tiener Scott McCall (Tyler Posey) word in die dorpie Beacon Hills deur ’n weerwolf gebyt en dit keer sy lewe onderstebo. Sy transformasie is woes. Dit lyk pynlik wanneer hy in ’n wolf verander: Sy beendere kraak, sy gesig word met pels bedek, sy oë gloei en hy tjank vir die volmaan. Deeglike werk deur die spesiale effekte-span! My gunsteling-oomblik: Dis ’n plesier om Scott se beste vriend, Stiles (Dylan O’Brien), in elke episode te sien. Hy is die lomp tiener wat altyd iets snaaks en onvanpas sê.
Hoekom kyk ek dit nou? My man het nog nie die reeks gesien nie en het dit begin kettingkyk. Ek het saamgekyk, want ek het onthou hoe goed die reeks was toe dit vir die eerste keer in 2014 op SABC2 uitgesaai is.
Bekende akteurs: Dylan O’Brien is bekend vir sy rol as Thomas in die The Maze Runner-flieks (2014-2018). Ons sien ook vir J.R. Bourne, die weerwolfjagter Chris Argent, wat die rol van Russell Lightbourne in seisoen 7 (2019) van The 100 (2014-2019) gespeel het.
Naam: Kashief Achmat Pos: Skeduleerder wat enige tyd sy nier vir ’n PS5 sal verkoop.
Ek kyk nou: Broad City (2014), seisoen 1-5, in die Blu-Ray-boksstel.
My mening oor die reeks: Toe Broad City aan my bekendgestel is, is gesê dit gaan oor twee 20+ besties Abbi (Abbi Jacobson) en Ilana (Ilana Glazer) wat in die stad New York woon. Dit klink baie tipies, maar wanneer jy kyk, word jy ingetrek in ’n wêreld vol skreeusnaakse streke, met tikkies feminisme en surrealistiese komedie. Abbi is onseker, probeer ’n beroep volg as ’n afrigtier by ’n gim, maar werk ook as ’n skoonmaker terwyl haar ware passie eintlik die kunste is. Sy probeer in haarself groei en kry dit reg danksy die hulp van haar oordadige, borrelende vriendin Ilana.
My gunsteling-oomblik: Ons ontmoet Ilana se ma in seisoen 2, perfek vertolk deur Susie Essman. Hul poging om vervalste handsakke te koop, is skreeusnaaks.
Hoekom kyk ek dit nou? Ek het onlangs by ’n Facebook-geveg betrokke geraak met iemand wat sê daar is geen vrouekomedieprogramme nie en ek het my skryfwerk ingespan om hulle daaroor te takel. Bekende akteurs: Daar is ’n hele aantal komediante wat hul verskyning maak voor hulle beroemd geraak het, soos Hannibal Burress van 30 Rock (Hobo Man, 2010-2012) as Ilana se tandartskêrel, en Alia Shawkat, Maeby in Arrested Development (2003-2019) het ’n affair met Ilana.
Naam: Tumi Kunene
Pos: Senior ontwerper wat gekrimp het en nie meer in enige van haar klere pas nie!
Ek kyk nou: Burden Of Truth, seisoen 1 en 2, op Showmax (2018-2019). Daar is ’n derde seisoen (2020) waarop ons wag om uitgesaai te word. Kristin Kreuk as die prokureur Joanna is die spil waarom alles draai.
My mening oor die reeks: ’n Mens kan enigiets doen as jy jou daarop toelê. Dit is nie verkeerd om jou eie pad te skep en te volg nie, veral as jy passievol is. Joanna Hanley (Kristin Kreuk) lewe in salige onkunde wat deur haar pa, David Hanley (Alex Carter), geskep is en sy breek daarvan weg en ontdek die wrede wêreld. Sy vestig haarself buite haar pa se regsfrima om te doen wat sy meen reg is. Sy is iemand met wie rekening gehou moet word!
My gunsteling-oomblik: Terwyl sy grootgeword het, het Joanna gehoor haar ma het haar nie regtig versorg nie. In seisoen 1, episode 9, is sy verplig om haar ma te besoek en hulle vorm ’n band.
Hoekom kyk ek dit nou? Ek dink ek moes ’n dokter of prokureur gewees het. Dalk was ek in my vorige lewe. Ek herleef dit dus in sommige van die hoftonele. Joanna is net so oulik soos ek is, grappie!
Bekende akteurs: Julle sal Kristin Kreuk onthou as Lana van Smallville (2001-2011). David word gespeel deur Alex Carter van Without A Trace (2002-2009). En dan is daar Billy Crawford as Peter Mooney (Nick Collins in 2012 in Rookie Blue, 20102015). Lees meer op bl. 8.