’n Vars briesie
Die gawe Nesie is spontaan, en nie op haar mond geval nie.
Haar naam is Evonique, maar almal noem haar sommer Nesie (Melissa Massyn). Nesie kom van Geduld, Springs, in Gauteng, na die Goudstad om haar drome te verwesenlik: Sy wil op die groot verhoë sing en dans, en gaan nou aan ’n talentkompetisie deelneem. “Nesie het in dieselfde plakkerskamp as Festus (Louis van Niekerk) en Koekie (Rina Nienaber) grootgeword en tannie Koekie is vir haar soos ’n ma,” vertel Melissa. Koekie en Festus neem haar onder hul vlerk en dit beteken sy trek by hulle en die Beltrames, Fafa (Altus Theart) en
Maryke (Marijke Coetser), in. En met die bekkige Nesie in die omtrek kan dit net een ding voorspel: hope pret.
UIT GEMAKSONE
Melissa (22) wat ons op 12-jarige ouderdom as die feeks Susan in die rolprent Hoofmeisie (2011) leer ken het, vertel die karakter Nesie is in verskeie opsigte vir haar soos ’n nuwe briesie in haar loopbaan. “Getroud Met Rugby is my eerste sepie en Nesie is my eerste volwasse rol. Ek het voorheen net tieners gespeel, soos die liggaamlik gestremde Katie Spencer wat ek in 2012 en 2017 in die SABC2-reeks Erfsondes (2007, 2009, 2012-2017) gespeel het,” sê sy.
Nesie neem haar as aktrise nou heeltemal uit haar gemaksone, voeg sy by. “Ek dink die kykers gaan baie van Nesie hou. Hoe dan anders? Sy is spontaan, nie op haar mond geval nie, is min gespin en sorg vir baie vrolikheid.”
Dit is uit die staanspoor duidelik Nesie gooi nie maklik tou op nie. “Sy glo waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Nesie sal tot alle uiterstes gaan om haar drome te bewaarheid, en as die een droom in die hek duik, pak sy die volgende. Sy doen selfs ’n oudisie om ’n pompon te word!”
IN DIE DIEP KANT
Om saam met gesoute akteurs soos Louis van Niekerk en Rina Nienaber te speel, is geensins intimiderend vir hierdie jong en passievolle aktrise nie. “Ek het in die vermaakbedryf grootgeword en moes van jongs af werk saam met veteraan-akteurs, soos
Sandra Prinsloo, wat die rol van Katie se ouma, Lucille Spencer, in Erfsondes gespeel het. Ek het tydens Erfsondes besef ek moenie deur my seniors geïntimideer word nie, maar eerder uitgedaag word. Ek leer elke dag so baie van my medespelers, soos Louis en Rina, asook Elzabé Zietsman wat die rol van Magda in
Getroud Met Rugby vertolk.”
AGTER DIE SKERMS
Net soos Nesie vind sy self nog persoonlik en as akteur haar voete in die grootmenswêreld, vertel sy beskeie. “Daarom het ek besluit om van jongs af my verskilende passies te slyp. Ek is baie lief vir skryf en het ook al een keer my hand aan regie gewaag.” In 2019 het sy saam met
Eunice Stoltz (sy het in 2013 in die eenvrouvertoning Wees gespeel) die musieken- dans- drama Unwrite Me geskryf om ’n platform vir jong akteurs te gee om toneel te speel. “Unwrite Me gaan oor ’n 40-jarige skrywer wat voordurend met die karakters in haar kop worstel en met haar omstandighede moet vrede maak,” vertel sy. “Dit was my baba-projek wat ons by die Corpus Christi Panorama-kerk in Kaapstad opgevoer het.” Melissa het nie self daarin gespeel nie, maar vir die eerste keer die leisels as regisseur gehou.
Wanneer die geleentheid opduik, doen sy ook motiveringspraatjies. “Ek hou daarvan om jongmense te motiveer oor die lewe en hoe om jou doel te bereik.”
HOOFFOKUS
Melissa het in 2015 saam met haar ouers van Gauteng Kaap toe verhuis, maar sy woon nou weer tydelik in Johannesburg terwyl sy in Getroud Met Rugby speel. “Met die inperking het ’n paar van my projekte in die slag gebly, maar in hierdie stadium is Getroud
Met Rugby my hooffokus.”
Sy sê Nesie lê haar baie na aan die hart en sy hoop die karakter gaan haar ook in kykers se hart inwurm. “Sy is so lieftallig en ek het probeer om haar met deernis te speel.”