TV Plus (Afrikaans)

’n Splinternu­we familie FAMILIE EERSTE

’n Nuwe gesig in Hillside gee Bonita weer hoop vir die toekoms en haar droom om weer ’n familie te hê.

-

Die lewe het Bonita (Hildegardt Whites) die afgelope weke ’n paar dwarsklapp­e gegee. Eers het sy en haar kêrel, Justin

(Dann-Jaques Mouton) uitgevind Justin is dalk DeWet (Dirk

Stoltz) se biologiese seun, maar

DNS-toetse het bewys hulle is nie verwant nie. Dit het Justin laat besef hy wil ’n beter pa wees vir sy eie seun, Luka

(nie op die skerm nie), en hy en Bonita het aanvanklik beplan om saam na Ierland te reis sodat hy sy seun kan ontmoet en met hom ’n band kan smee. Maar uiteindeli­k was dit net Justin wat op die vliegtuig geklim het nadat hy van Bonita afskeid geneem het. “Dit het Bonita gebreek,” vertel Hildegardt. “Sy was so lief vir hom en sou enigiets doen om hom gelukkig te sien. Sy’t soveel hoop gehad vir die toekoms, dat hulle dalk eendag ’n gesin kon wees, maar die lewe het haar ’n lelike streep getrek.”

Haar gemoed het egter ’n onverwagse hupstoot gekry toe die 23-jarige

Crushanda (Shady) Vermeulen

(Beáta Bena Green, Kim Claasen vanaf 20182019, in Arendsvlei, 2018-nou, lees meer op ble. 24 en 25) by haar aangeklop het. “Sy is die dogter van Bonita se broer Trigger (Ruben Engel,

Lloyd Delport vanaf 2017

2018, in die sepie Suidooster, 2015-nou, lees meer op ble. 26 en 27) en is op soek na hom. Bonita is uit die veld geslaan wanneer sy Shady sien, maar verwelkom haar met ope arms,” vertel Hildegardt oor hul onlangse ontmoeting.

Shady het moeg geraak van haar familie in Port Elizabeth, veral vir haar ma (nie op die skerm nie) en stadig maar seker het sy en haar familie uitmekaar gedryf. “Shady het besluit tot hiertoe en nie verder nie. Sy wil haar tannie Bonita gaan soek en meer uitvind oor haar pa, Trigger. Shady was aanvanklik nie seker hoe sy ontvang sou word nie, want sy het so lanklaas kontak met Bonita gehad. Sy was nie eers seker of sy welkom sou wees nie,” vertel Beáta.

“Sy was egter baie verras, en verlig, toe Bonita haar omhels en ’n stywe drukkie gee. Dit voel nou vir Shady asof sy weer familie het op wie sy kan staatmaak en wat haar sal ondersteun in haar nuwe avontuur in Hillside.”

Bonita is te bly om met ’n familielid te herenig. “Bonita het eintlik vergeet van haar familie in die Oos-Kaap. Daar het goed gebeur waarvan sy eerder wil vergeet en het gedink daardie hoofstuk van haar lewe is afgesluit. Toe nou nie,” verduideli­k Hildegardt.

Natuurlik wil Boninta meer van die familiesak­e by Shady hoor en die twee gesels land en sand oor alles, ook oor Trigger. En dis wanneer Bonita Shady vertel haar pa is nog in die tronk vir ’n gewapende rooftog.

“Dit ontstel Shady effens dat haar pa nog agter tralies is, maar ten minste weet sy nou die waarheid,” sê Beáta.

’N MEINTJIES

Omdat Bonita nie sterk bande met haar familie gehad het nie, het sy eensaam en weerloos gevoel toe sy in 2010 die eerste keer by Hillside ingestap het. Sy kom uit ’n moeilike agtergrond, was op ’n slegte plek, en het op straat gebly. Die eerste mens wat sy ontmoet het, was Vince

Meintjies (Jacques Blignaut).

“Hy was besig om blomme voor sy winkel uit te stal en sy’t vir hom gesê: ‘Jy sal nooit daardie bos blomme verkoop kry nie, dit lyk nie eens soos ’n bos blomme nie.’ Toe het sy hom gewys hoe om ’n mooi bos blomme te maak,” onthou Hildegardt.

Die twee het vinnig vriende geraak en was later ’n gelukkige paartjie. In Oktober 2011 het Vince vir Bonita gevra om met hom te trou. “Dit was die eerste keer in ’n lang tyd dat Bonita weer deel van ’n familie gevoel het. Die twee was gelukkig saam, maar later het baie dinge gebeur wat die einde van hul huwelik beteken het, en Bonita het weer sonder ’n familie-gevoel gesit.”

Sy en Vince se broer, Justin, was lank vriende voor ’n romanse in 2019 tussen hulle ontwikkel het. “Dit het vir haar gevoel asof sy nou haar eie familie het. Hulle was so gelukkig saam, maar die noodlot het ander planne gehad.”

DIE VANESSA-FAKTOR

Terug by Shady: Die meisie het by Vanessa (Ingrid Paulus) en Bonita ingetrek, maar Vanessa was nie te gemaklik met die nuwe huismaat nie. “Al wat sy van Shady weet, is sy is familie van Bonita,” verduideli­k Ingrid. “Sy is aanvanklik nie ten gunste daarvan dat iemand wat sy nie ken nie, by hulle intrek nie. Maar soos die tyd aanstap, raak Vanessa gemakliker met Shady en die twee kom gou goed oor die weg, amper soos goeie ou vriende.”

En soos dit ’n goeie vriendin betaam, is Shady in die wolke vir Vanessa se onthalwe wanneer sy hoor daar is ’n nuwe man in Vanessa se lewe.

“Vanessa het een aand laat langs die pad gaan staan weens ’n pap wiel en die vreemde man, Byron (ook gespeel deur Ruben Engel, lees meer op bl. 21), het stilgehou en aangebied om haar te help. Sy was heeltemal onkant gevang deur sy sjarme. Daar was gou ’n vonk tussen hulle en die twee het ’n verhouding begin. Hy is die beste ding wat nog met haar gebeur het sedert die dood van haar geliefde Xander

(Theodore Jantjies, van vanjaar af Jordan in Getroud Met Rugby, 2016-nou, lees meer op ble. 19-20) begin vanjaar.”

DONKER WOLKE

Maar in Hillside is daar altyd drama om geluk se draai. Ons is die dood voor oë gesweer as ons verklap wat gaan gebeur, maar ’n groot donderstor­m is op pad wat Bonita, Vanessa en Shady van hul voete af gaan slaan . . .

 ??  ?? Bonita se droom om weer ’n gesin te hê en hoop vir die toekoms te kry, word waar.
Bonita se droom om weer ’n gesin te hê en hoop vir die toekoms te kry, word waar.
 ??  ?? Vanessa (links) se voet is onder haar uitgeslaan deur die sjarmante Byron.
Vanessa (links) se voet is onder haar uitgeslaan deur die sjarmante Byron.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa