TV Plus (Afrikaans)

Jolige kitsbruilo­f

Nesie en Buks trou uiteindeli­k en hou twee makieties.

-

Nadat die kelnerin Nesie (Melissa Massyn) ’n paar weke terug uitgevind het haar Stryder-kêrel Buks (Adriaan Marais) was aan die blonde bom Vanessa (MiaAnne O’Kennedy) verloof en dit was boonop nie sy eerste verlowing nie, wou sy net mooi niks van Buks se toenaderin­g weet nie. “Buks probeer hard om Nesie se hart terug te wen, maar sy is net hardkoppig,” vertel Adriaan.

Buks het Nesie selfs gevra om te trou, maar Nesie hou voet by stuk: Sy raak nie aan ’n “serial- verlower” verloof nie. “Sy wil ’n man hê wat bereid is om ’n honderd persent te commit,” sê Melissa.

Maar haar ouma Nonnie (Hélène Truter) en haar ma, Nytjie (Monique Nortjé), besluit om sake in eie hande te neem en reël ’n verrassing­stroue vir die twee. Die probleem is, gaan Nesie vir Buks ja sê?

IN DIE DUISTER

Buks het geen twyfel Nesie is die vrou van sy hart nie. “Maar wanneer Nesie sy huweliksaa­nbod van die hand wys, is hy in die duister,” sê Adriaan. “Hy weet nou glad nie meer wat sy wil hê nie, want hy vra haar dan om te commit.”

Gelukkig kom Nytjie en Nonnie tot die moedelose Buks se redding. “Hulle kry die blink idee om ’n kitstroue vir Nesie en Buks te reël en hoop dit sal Nesie in ’n hoek dryf,” vertel Monique.

Ma en dogter het dadelik hul plan begin uitvoer. “Hulle het Buks se selfoon in die hande gekry en die Stryders en hul vriende na die okkasie in die kuierplek Pottie’s genooi. Hulle het ’n troukoek, die blomme, versnaperi­nge en selfs die dominee gereël,” sê Hélène.

Nesie moes darem mooi lyk vir haar groot dag, en die trourok was ’n bietjie van ’n hoofpyn, want hulle wou nie hê Nesie moes snuf in die neus kry nie. “Hulle het besluit om Nesie die dag van die troue te oorreed om een van haar mooiste rokke aan te trek. Hoofsaak is dat sy die aand by Pottie’s opdaag en nie kop uittrek nie,” voeg Hélène by.

DIE GROOT DAG

Nytjie en Nonnie het Buks eers op die nippertjie in hul vertroue geneem en van hul gekonkel vertel. “Buks was huiwerig of hierdie plan van hulle gaan werk, maar stem uiteindeli­k in en trek ’n netjiese pak aan,” vertel Adriaan.

’n Troue is egter nie ’n troue as die hele familie nie daar is nie. Nytjie het Nesie se pa, Grease (Matt Stern, dominee Douw Droel in Huis Lelieveld, 2019-2020) ook na die bruilof genooi.

“Grease dink dadelik Nesie is swanger en dis ’n moet-troue omdat alles so uit die bloute gebeur. Maar hy besluit tog hy kan nie sy oogappel se groot dag en die lekker partytjie misloop nie,” vertel Matt.

Al die gaste het in spanning gewag dat Nesie in Pottie’s moes opdaag. Nesie was heeltemal uit die veld geslaan toe sy by Pottie’s instap en al haar vriende en boonop haar pa daar kry. “Buks het haar weer voor almal formeel gevra om te trou en sy het nie ’n oomblik gehuiwer nie,” sê Melissa.

Die bruilof was ’n jolige affêre. “Nytjie het Grease kort-kort oor die vingers getik om nie die kroeg leeg te drink nie,” vertel Matt. “En Nonnie het oudergewoo­nte weer uitgerafel en heerlik met al die Stryder-mans geflankeer,” voeg Hélène by.

Nesie en Buks is albei in die wolke. “Nesie wou nie ’n tipiese troue hê nie en die verrassing was vir haar baie lekker. Die belangriks­te was almal vir wie sy lief is, is daar. En Pottie’s is immers haar tweede tuiste,” sê Melissa.

NÓG ’N PARTYTJIE

Omdat die twee verliefdes ook nie ’n tradisione­le rampartytj­ie en kombuistee (of eerder bacheloret­te- partytjie) gehad het nie, besluit hulle om dit self te reël. Nytjie en Nonnie verleng sommer ook hul kuier. “Nonnie loop mos nie ’n lekker partytjie vir enige iets mis nie, en Nytjie moet daar wees om haar op te pas,” sê Monique.

Nonnie en Nytjie se hartewens om Buks en Nesie voor die kansel te kry, is darem bewaarheid. “Nesie en Buks is nommerpas vir mekaar. Nesie het ’n manier om soos haar ma en ouma soms ’n bietjie uit te rafel, maar Buks weet presies hoe om haar in toom te hou,” sê Melissa. “En Buks en Nesie het immers al ’n paar sakke sout saam opgeëet,” vertel sy. Adriaan stem heelhartig saam. “Die twee is uitgeknip vir mekaar en Nesie is Buks se droomvrou.”

 ??  ?? Buks (links) en Nesie het ’n prettige oomblik. Die Stryders en pompons deel in Nesie (regs) en Buks se geluk tydens die tweede feesvierin­g.
Buks (links) en Nesie het ’n prettige oomblik. Die Stryders en pompons deel in Nesie (regs) en Buks se geluk tydens die tweede feesvierin­g.
 ??  ?? Nesie (links), Buks en Nonnie (regs) hou jolyt.
Nesie (links), Buks en Nonnie (regs) hou jolyt.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa