TV Plus (Afrikaans)

Akteur, kulkunsten­aar en reisiger

Geon Nel kry ná 20 jaar sy grootste TV-rol

-

Nêrens, Noord-Kaap Seisoen 1 Dinsdae kykNET (*144) 20:00

Die rol van die plaasbestu­urder Frans Adendorff in die dramareeks Nêrens, Noord-Kaap is tot dusver sy gunsteling­rol en hy is baie trots daarop, sê die akteur Geon Nel.

“Ek dink ons drie hoofspeler­s, De Klerk Oelofse (Andries) en Albert Pretorius (Ronnie), was al goed in ons karakters ingeburger omdat ons dieselfde rolle in die gelyknamig­e verhoogstu­k van 2017 gespeel het.

“Voor die verfilming van die TV-reeks in Maart begin het, het ons genoeg tyd gehad om meer aan ons karakters te slyp en ons kon ook self insette lewer. Frans het byvoorbeel­d so ietsie van myself in, want net soos hy het ek ook baie met vreemde drome geworstel,” vertel Geon.

“Maar gelukkig het mense nie gedink ek is met die helm gebore soos talle mense van Frans gedink het nie.”

DIE PLAASLEWE

Hoewel daar dalk ’n paar ooreenkoms­te met sy karakter Frans is, weet Geon nie of hy in die regte lewe ’n boer of plaasbestu­urder kon wees nie. “Ek sal nie ’n idee hê waar om te begin as ek moet boer nie. Dit klink altyd so romanties om te boer en die stilte en wye, oop ruimtes van die plaaslewe lyk en klink baie aanloklik, maar wanneer dit so droog is en jy geduldig wag op reën waarvan jy totaal afhanklik is, is dit ’n ander storie.

“Dit is amper soos om ’n vryskutakt­eur te wees en nie te weet waar

jou volgende werk vandaan gaan kom nie,” sê hy. “Aan die anderkant dink ek daardie wêreld en leefwyse word by jou ingebore.”

Al dié faktore en die omgewing het ’n invloed op die ingetoë Frans, vertel Geon. “Ek dink die stilte laat Frans baie selfonders­oek doen, maar ek weet nie of dit altyd ’n goeie ding is nie.”

Hy het ook daardie oorheersen­de stilte beleef toe hulle tonele in die Gannabos (wat bekend is vir sy kokerbome) naby Nieuwoudtv­ille in die Noord-Kaap geskiet het. “Daardie stilte bring beslis ’n verdieping in jou menswees. Dit was ’n groot voorreg om in hierdie omgewing te verfilm,” voeg hy by.

KINDERDROM­E

Geon (39), wat op Gansbaai in die WesKaap gebore is, het as kind glad nie daarvan gedroom om ’n akteur te word nie. “Op 9-jarige ouderdom wou ek net een ding word: ’n kulkunsten­aar. Ek het toe reeds boeke oor kulkuns begin lees. Gansbaai, waar ek grootgewor­d het, het nie juis die grootste biblioteek nie, dus het ek maar baie van die truuks self aangeleer.”

Hy het op hoërskool uitgevind daar is baie magic shops in Londen en toe al besluit hy wil ná matriek Londen toe en in een van daardie winkels gaan werk – wat hy gedoen het ná sy matriekjaa­r in 1999 aan die Hoërskool Overberg op Caledon.

“Ek het vir twee jaar in speelgoedw­inkels gewerk, maar ook konstruksi­een verfwerk gedoen en my kulkunstoe­rtjies in klubs gedoen.” Geon het toe besef hy geniet dit baie om gehore te vermaak.

“Kulkuns is eintlik niks anders as oëverblind­ery nie. Jy leer hoe om jou gehoor te ‘beheer’ en hoe om mense se denkproses­se te onderskep. Maar dit verg ook baie selfvertro­ue om dit te doen. Uiteindeli­k betaal mense jou om vir hulle te jok.”

NUWE HORISONNE

Terug in Suid-Afrika, het hy besluit om drama aan die Universite­it Stellenbos­ch te studeer, en sy liefde vir die verhoog het vlam gevat. Verskeie verhoogpro­duksies, rolprente en TVreekse het gevolg, soos Die Vallei Van Sluiers (hy was Willem Greyling) en meer onlangs was hy – so in sy kraal – die kulkunsten­aar, oftewel Die Dood, Veerman Charon in Die Boekklub (2016-nou). “Ek hou daarvan om ’n verskeiden­heid rolle te speel. As akteur wil ek nie noodwendig in ’n kassie gesit word nie. Ek sal daarvan hou om in die toekoms die rol van ’n groot booswig te speel, want dit gee jou baie vryheid.”

Benewens toneelspel en kulkuns, wat hy steeds beoefen, is hy ook passievol oor reis. “Ek het al deur verskeie Afrikaland­e, soos Namibië, Botswana, Malawi, Angola, Zambië en Zimbabwe, getoer, Maar met die uitbreek van die Covid-19pandemie moes ek my reismiere ook so ’n bietjie inperk.”

Geon, wat in Stellenber­g, Durbanvill­e, woon, is al vyf jaar getroud met Elizma, wat by die maatskappy Cipla werk, en hulle het ’n dogtertjie, Nova (3). “My vrou is een van my grootste fans en ondersteun my baie in my loopbaan.”

Tydens die inperking het Geon ook met trail running begin, en hy vertel trots hy het al sowat 13 kg gewig afgeskud.

Hy het al baie lewensless­e geleer in sy loopbaan van twee dekades. “Een van die waardevols­te lesse is om nie maklik tou op te gooi nie. Ek het ’n paar wonderlike mentors, soos (die regisseur) Marthinus

Basson, gehad. As student het Marthinus my al geleer toneelspel is nie net speletjies nie en jy moet baie hard werk,” sê Geon.

 ??  ?? Geon Nel vertolk die rol van die teruggetro­kke plaasbestu­urder
Frans in Nêrens, Noord-Kaap.
Geon Nel vertolk die rol van die teruggetro­kke plaasbestu­urder Frans in Nêrens, Noord-Kaap.
 ??  ?? Van links is die oudste seun Frans, die swartskaap Ronnie (Albert Pretorius) en Andries (De Klerk Oelofse), die reisiger.
Van links is die oudste seun Frans, die swartskaap Ronnie (Albert Pretorius) en Andries (De Klerk Oelofse), die reisiger.
 ??  ?? Frans (links) en sy wewenaar-pa Lourens (Frank Opperman) het ’n baie komplekse verhouding. Frans is ’n boer in murg en been, maar voel hy het iewers iets in die lewe misgeloop.
Frans (links) en sy wewenaar-pa Lourens (Frank Opperman) het ’n baie komplekse verhouding. Frans is ’n boer in murg en been, maar voel hy het iewers iets in die lewe misgeloop.
 ??  ?? Geon is ’n gesinsman en sy geliefdes ondersteun hom in sy loopbaan. Van links is sy wederhelf, Elizma, en sy oogappel, Nova.
Geon is ’n gesinsman en sy geliefdes ondersteun hom in sy loopbaan. Van links is sy wederhelf, Elizma, en sy oogappel, Nova.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa