TV Plus (Afrikaans)

’n Stadsmeisi­e met ’n boerehart

Heléne Lombard pronk weer op die kassie nadat sy ’n tydjie uit die kollig was om meer tyd aan haar gesin te wy.

-

Boerediva Seisoen 1 Donderdae VIA (*147) 17:00

Sy is terug! Die aktrise Heléne Lombard, wat kykers vroeg in die 2000’s warm onder die kraag gemaak het as die feeks Sandra Stutterhei­m in die sepie 7de Laan (lees meer op bl. 29), is weer op die kassie. En sy word vandag nog op straat herken as Sandra! “Dis ’n rol wat altyd by my sal bly,” sê Heléne. “Dit was ’n spesiale tyd in my lewe en spesiaal om deel te wees van die oorspronkl­ike cast. Vandag kyk ek met nostalgie terug daarna.”

Maar dié keer speel Heléne nie ’n karakter wat bekgevegte gaan hê en onderduims­e dinge gaan aanvang nie – sy is tuis in haar eie kombuis en maak haar hart vir kykers oop in die splinternu­we leefstylre­eks Boerediva.

WAT IS ’N BOEREDIVA?

“’n Boerediva is ’n stadsmeisi­e met die hart van ’n boer,” verduideli­k Heléne. “Sy het ’n tradisione­le agtergrond in kosmaak, maar hou daarvan om moderne kosstyle te meng met die tradisione­le.”

In elke episode van Boerediva is daar ’n tema waarvolgen­s Heléne kook en kreatief raak. “Ek sal byvoorbeel­d kruiesout gebruik in my gereg, en dit ook as ’n geskenk in ’n handgemaak­te houertjie vir my gas gee,” brei sy uit.

Die gaste na wie Heléne verwys, is van haar vriende en familie wat in elk van die 13 episodes by haar kom kuier, en vir wie sy heerlike kos maak, soos skaapboud, bobotie, melkkos en beskuit met ’n moderne kinkel. “Ek wil nie nou verklap presies wie gaan kom kuier nie, maar ’n bekende ontwerpers­vriend gaan ’n draai maak en dan gaan ons lekker kook, eet en kreatief wees,” sê sy met ’n skelm laggie wat jou amper aan Sandra herinner.

Ander geskenkies wat sy ook in die reeks maak – en wat kykers kan leer hoe om self te skep – is handgeverf­de borde, kaartjies, en nóg meer. “Jy kan mooimaak met min goed,” sê Heléne, wat glo handgemaak­te bederfies is ekstra spesiaal.

KOS IS ’N REIS

Heléne neem kykers op ’n avontuur in haar boheemse kombuis. “Kos is ’n reis,” sê sy. “Met die bestanddel­e, geure en eksperimen­tering vat jy dié wat dit eet op ’n smaakvolle reis – en dis altyd waarna ek streef wanneer ek agter die kospotte is.”

Heléne, wat nie enige formele opleiding in die kookkuns het nie, kom uit ’n groot familie van 5 dogters, 21 kleinkinde­rs en 48 agterklein­kinders, en dis by haar familieled­e waar sy haar liefde vir kosmaak ontdek het. “Ek is dol daaroor om mense bymekaar te bring,” sê sy. “Ek skroom nooit om op die nippertjie ’n klomp mense, familie of vriende, bymekaar te bring en fees te vier nie. Ek loer net wat in my kaste is en maak dan ’n heerlike gereg.”

Moet ook nie dink sy tower net ou staatmaker­s op nie – sy maak selde ’n gereg twee keer, want die lewe is vir haar te kort om nie elke keer iets nuuts te probeer nie.

BUITE DIE KOLLIG

Heléne se liefde vir toneelspel is nog nie geblus nie, al het ons haar ses jaar gelede laas op die skerm gesien as prof. Lina Spoez in die fliek Pawpaw Vir My Darling. “Ek het my loopbaan tydelik opsy geskuif om na my kinders te kyk,” sê Heléne “Hulle is nou groter, dus kan ek nou weer tyd aan my loopbaan wy. Ek het laas jaar al die jeuk begin voel om iets te doen en toe kom Boerediva oor my pad.”

Heléne sê op ’n manier speel sy tog weer ’n rol, al is dit nie ’n karakter nie. “Ek is Heléne, maar ek speel lekker met my uitrusting­s en grimering en dit maak alles net soveel opwindende­r.”

Sy hoop die reeks is vir kykers iets wat hulle goed laat voel en hulle inspireer om kos te maak. “Gryp die feesvierin­gs en samesyn aan – dit kan net geluk bring,” voeg sy by.

 ??  ?? Die aktrise Heléne Lombard skitter as die aanbieder van die nuwe leefstylre­eks Boerediva.
Die aktrise Heléne Lombard skitter as die aanbieder van die nuwe leefstylre­eks Boerediva.
 ??  ?? Heléne (naasregs) saam haar seuns, van links, Marcel (14), Ronin (12) en Lucien (17).
Heléne (naasregs) saam haar seuns, van links, Marcel (14), Ronin (12) en Lucien (17).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa