Roemryke erfenis
Nataniël herontdek sy Franse voorsate se kultuur.
Terwyl Ek Wag
Seisoen 1 Maandae kykNET (*144) 20:00 (begin 4 Oktober)
Dit was tydens die verfilming van die eerste seisoen van kykNET se reeks Edik Van Nantes in 2014, toe Nataniël en sy broer,
Erik, een van hul Hugenotevoorvaders (Jean le Roux) se plaas besoek het, dat Nataniël besluit het hy wil nog ’n reeks op daardie plaas verfilm. “Daar is net té veel stories, geskiedenis en skoonheid op die plaas om te ignoreer,” sê hy. Sy nuutste reeks, Terwyl Ek Wag, is ’n program vir hierdie tyd, maar geïnspireer deur ’n vergete tyd. Die Protestantse vlugtelinge se aankoms in die Kaap word opnuut bekyk en met kos, kuns, kultuur en vakmanskap ingekleur. Nataniël vertel meer.
Het julle maklik toestemming gekry om op
die plaas te verfim? Die eienaars, Juria le Roux en haar familie, is absoluut toegewyd om die plaas in sy oorspronklike toestand te bewaar. Juria is ’n skilder en was saam met my op skool. Hulle ken my al baie jare en weet geskiedenis en kuns is my twee groot liefdes en ek sal hul erfenis en verhaal op die mooiste manier probeer uitbeeld. Die familie is, soos myne, afstammelinge van die drie oorspronklike Le Roux-families wat uit Frankryk hier aangekom het. Ons samewerking was dus ’n uitgemaakte saak. Vertel ons van die resepte vir Terwyl Ek Wag? Ek het al ’n jaar terug oor historiese resepte begin oplees, veral dié van die Franse Protestante. Ek het my idees daarop gegrond. Talle geregte wat deesdae as Suid-Afrikaans beskou word, was oorspronklik Hugenote-kos. Die reeks is hoofsaaklik in die 300 jaar oue plaashuis verfilm en die stel is deur verskeie kunstenaars, meubelmakers en ontwerpers ingeklee. Die stel het, soos dit my gewoonte is, elke dag verander. Ek wou ’n wêreld skep wat beweeg en elke dag groei, ook oud en nuut meng. My huis en sy inhoud verander die heeltyd, iets wat “klaar” of “voltooid” is, verveel my en ek vermoed dis ook sieldodend vir intelligente kykers. Die styl is organies en minimalisties, maar ek wou elke oomblik skilderagtig maak.
Vertel ons van die musiek. Ek hoop ek is die wêreld se enigste huiskok wat sy eie musiek skryf, dis noodsaaklik om ’n belangrike geheel te skep. Ek het direk ná die verfiming ’n maand lank musiek geskryf en daana het ons ’n maand lank opgeneem, dit duur baie lank met die Covid-19-beperkinge. Ek het twee style gemeng, Franse klassieke rolprentmusiek en Europese jazz, wat in ou flieks gebruik is. Hier en daar is ’n bietjie moderne akoestiese pop. Ek het ook vir die eerste keer ander stemme gebruik, soos dié van Corlea Botha. En die kostuums? Daar is baie, baie kostuums. Al my klere is deur Floris Louw ontwerp en gemaak. Van die uitrustings is deur die 17de en vroeë 18de eeu geïnspireer. Watter uitdagings moes julle tydens die ver
filming van die reeks oorkom? Ons het al tydens die verfilming van my vorige reeks Toegang (2020) aan al die Covid19-protokolle gewoond geraak. Ek is dol oor ’n masker, want geen mens sien hoe oud jy is wanneer jy ’n masker dra nie. Die groot uitdaging was die baie reën toe ons verlede jaar in Junie verfilm het. Maar dit was nietemin ’n vreugdevolle ervaring om in afsondering op ’n ongerepte plaas te verfilm. Erik kon ongelukkig weens die grendeltyd in Frankryk nie in Junie na Suid-Afrika kom nie en is dus nie deel van dié reeks nie. Ek hoop van harte om binnekort weer saam met hom ’n reeks te vervaardig. Hoekom moet ons na Terwyl Ek Wag kyk?
Want ons is nie ’n fabriek of worsmasjien soos baie ander produksies nie. Maande se beplanning en baie werk is nodig vir ’n paar minute se inhoud, al kom dit hoe ontspanne of ongeërg voor. Gehalte, integriteit en hoë waardes is die hoogste prioriteite. Moenie ’n oomblik misloop nie, maak alles stil wat kan raas. Die program is belaai met detail, inligting, diere, plante en klanke. Dis ’n halfuur van ontsnap, herlaai, asemhaal, planne maak en hoop.