TV Plus (Afrikaans)

Sagmoedige breker

Uiteenlope­nde karakters is Arno se ‘kos’.

-

Die akteur Arno Marais (37) wissel graag die karakters wat hy vertolk af, maar gaan “soek” nie noodwendig na ’n spesifieke, tiperende karakter om te speel nie. “Ek doen oudisies en is net dankbaar wanneer ’n rol waarvoor ek ’n oudisie gedoen het, na my kant toe kom,” sê hy op sy beskeie manier. “Ek hou nie daarvan om ge-etiketteer te word nie. Maar ek moet bieg, dis altyd lekker om die baddie te speel, juis omdat die karakter so ver verwyderd van my eie persoonlik­heid is. Ek het ook nog nooit die romantiese hoofrol gespeel nie, dalk kry ek nog die geleenthei­d. En dan sal ek ook graag eendag ’n dapper held wat mense help, wil speel.”

INTENSE DRAMA EN SEPIES

Kykers het Arno onlangs in die boeiende kykNET-dramareeks Spoorloos 3: Steinhof as die alkoholis en moeilikhei­dmaker Herman gesien. Dié karakter, wat veral aggressief en opstandig geraak het wanneer hy drink, is ligjare verwyderd van die saggeaarde, gay prokureur Thinus de Wet wat Arno die afgelope drie jaar in die sepie Getroud Met Rugby gespeel het. “Die rol van Herman in

Spoorloos 3 was een van my gunsteling­rolle,” sê hy. “Maar dit was emosioneel uitputtend om hierdie hartseer karakter te vertolk. Een van die slottonele, die skiettonee­l, het my só erg ontstel dat ek die nag nadat ons dit verfilm het, glad nie kon slaap nie.”

Die prokureur Thinus in Getroud Met Rugby was nie die eerste gay karakter wat na sy kant toe gekom het nie. In die eerste twee seisoene van die dramareeks Die Boekklub (2017 en 2018) het hy die eerste keer ’n gay karakter, die sagmoedige boer Herman Mouton, vertolk. “Ek is nie gay nie, maar wanneer ek wel gay moet speel, kom dit gelukkig maklik,” sê hy. “Ek het dit baie geniet om die rol van Herman in so ’n gehalteree­ks soos Die Boekklub te vertolk en was jammer toe die karakter aan die einde van die tweede seisoen gesterf het en ek nie in die derde seisoen kon speel nie.”

Arno, wat in Bloemfonte­in gebore en getoë is, het in 2002 gematrikul­eer en toe eers vir twee jaar in Engeland en Wallis gewerk en getoer. Daarna het hy vir drie jaar drama aan die Tshwane Universite­it van Tegnologie (TUT) in Pretoria gestudeer. Sy eerste deurbraakr­ol op televisie het in 2009 gebeur toe hy die rol van die stoutseun Benjamin le Roux in die sepie Isidingo (1998-2020) losgeslaan het.

DANKBAARHE­ID EN GELOOF

Maar die akteur met die sagte blou oë en skaam kuiltjie-glimlag se lewe het op die aand van 23 Julie 2010 ingrypend verander toe hy in ’n motorbotsi­ng betrokke was. Arno is ernstig beseer en was vier weke in ’n koma. Ondanks sy beserings, soos inwendige bloeding, swelling op die brein en ’n long wat platgeval het, het hy wonderbaar­lik herstel. “Ek het difuus aksonale breinskade opgedoen, maar dit het vandag geen invloed op my lewe nie. Ek is oneindig dankbaar dat ek volkome herstel het,” sê hy. “Die nagmerrie-ervaring het beslis daartoe bygedra dat ek my emosies nou meer in my toneelspel kan uitleef.”

Wat geloofsake betref, vertel hy hy was nog baie jonk toe hy sy hart vir die Here gegee het. “Maar ek was nooit regtig ’n volgeling nie.” Twee jaar terug het sy geloof ’n intense verdieping ondergaan en is hy weer in ’n kerk in Centurion gedoop.

Hy is ’n enkelloper, maar dit beteken nie hy soek nie na ’n geskikte lewensmaat nie. “Maar ek weet nie of dit ooit regtig gaan gebeur nie,” sê hy. “Dit doen seker nie enige skade om te hoop nie,” voeg hy by.

Arno is ’n buitelugme­ns en gaan graag op staptogte. “My ideale vakansie is in die bos of by die see,” sê hy. In sy vrye tyd bou hy graag Lego. Hy beskryf homself as iemand wat drome het en graag daarby wil uitkom en daarvoor werk. Sy lewensfilo­sofie is: “Take care of the little pictures, the big picture will take care of itself.” En hoe sal hy graag wil hê mense moet hom onthou? “As iemand wat omgee vir ander en ’n hart vir sy medemens het.”

 ?? ?? Arno Marais het al met ’n verskeiden­heid karakters in talle rolprente en TV-reekse naam gemaak.
Arno Marais het al met ’n verskeiden­heid karakters in talle rolprente en TV-reekse naam gemaak.
 ?? ?? Arno as die prokureur Thinus de Wet in Getroud Met Rugby wat hy die afgelope drie jaar vertolk het.
Arno as die prokureur Thinus de Wet in Getroud Met Rugby wat hy die afgelope drie jaar vertolk het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa